Abstract:
Maatskappyereg is nog altyd baseer op die beginsel dat die direksie die
maatskappy moet bestuur in die beste belang van die maatskappy.
“Maatskappy” in hierdie sin beteken die maatskappy as afsonderlike
regsentiteit, met verwysing na die vermoënsmaksimalisering van die
belange van die aandeelhouers. Die belange van die ander belangehouers,
soos die werknemers, staat en verbruikers kon in ag geneem word, maar
die fokus is die aandeelhouers se belange. Hierdie teorie van die
uitgebreide aandeelhouersbelang (“enlightened shareholder approach”) is
ook aanvaar as die basis van die Suid-Afrikaanse Maatskappywet 71 van
2008, in stede van die meervoudige belange benadering (“pluralist
approach”). Daar is egter ’n duidelike verandering ten opsigte van die
voortgesette absolute toepassing van eersgenoemde benadering te
bespeur, nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook wêreldwyd.
Hierdie beweging is miskien begin deur instrumente soos Kodes, maar in
die Suid-Afrikaanse Maatskappywet is daar ook nou spesifieke bepalings
wat aan sekere belangegroepe direkte remedies verleen. Daar is twee
modelle wat die direksie in staat stel om hierdie ander belange in ag te
neem, en in Suid-Afrika geskied dit deur die Sosiale en Etiese Komitee,
terwyl dit in die Verenigde Koningkryk gedoen word deur middel van ’n
spesifieke statutêre bepaling, alhoewel laasgenoemde nie direk
afdwingbaar is deur die belangegroepe nie. In hierdie artikel word die twee
modelle in oënskou geneem en die effektiwiteit daarvan word ge-evalueer, veral in die lig van die praktiese probleme en die wenslikheid van sulke
inisiatiewe, sonder dat die basiese gemeneregreël ten opsigte van die
aandeelhouerfokus uitdruklik gewysig word.