Abstract:
Die doel van hierdie skripsie is tweerlei van aard. Eerstens om
‘n historiese oorsig oor die ontstaan en ontwikkeling van
oorlogskuns in Suid-Afrika in die negentiende-en twintigste eeue
te bied en tweedens om die aspekte van bewaring met betrekking
tot kunswerke in die algemeen in museums en galerye en dan meer
spesifiek vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir
Krysgeskiedenis (SANMKG) aan te beveel.
Wat die eerste gedeelte betref is daar veral gesteun op katalogi
deur Museums soos die SANMKG, die Oorlogsmuseum van die
Boererepubliek COMB) en die Africana Museum Johannesburg,
opgestel. Daar is ook gebruik gemaak van Gordon Brown se
Pictorial Art in South Africa, Pictorial Africana en Esme Berman
se Art and Artiste of South Africa. Waar vindplekke van
kunswerke bekend was, is hulle genoem, maar daar is nie gepoog
om 'n katalogus van sulke plekke daar te stel nie.
Dit is yanselfsprekend dat dit onmoontlik was om alle kunswerke
met oorlog as tema in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te bespreek
en seleksie was dus noodsaaklik. Hoewel daar op ernstige
skilder- en tekenkuns in hierdie skripsie gekonsentreer is, is
werk wat byvoorbeeld in die soldaat se dagboek voorkom en ook as
ernstige werk beskou kan word, uitgesluit. Die estetiese waarde
van die werk is miskien nie altyd van hoogstaande gehalte nie,
maar hul kultuurhistoriese waarde is wel van onskatbare belang veral
waar daar nie ander alternatiewe rekords oor veldslae en
selfs oorloë bestaan nie.
In hierdie skripsie is slegs aandag geskenk aan, eerstens
kunstenaars van buitelandse afkoms wat konflikte in Suid-Afrika
vasgelê het en tweedens Suid-Afrikaansgebore kunstenaars wat ook
konflikte in die buiteland waar Suid-Afrika betrokke was, op doek
vasgelê het. Dit is vanselfsprekend dat eersgenoemde groep tot
en met ongeveer die Tweede Wêreldoorlog oorheersend figureer
aangesien Suid-Afrika se eerste kunstenaar eers in 1853 gebore
is. Dit was William Howard Schroder (1853-1892) wat soms as die
eerste plaaslik gebore, vol tydse, professionele kunstenaar beskou
word. Schroder wat hoofsaaklik 'n spotprentkunstenaar was, het
groot gewildheid as 'Suid-Afrika se eie kunstenaar' verwerf. ‘n Verdere bepalende faktor wat 'n rol by die seleksie gespeel
het, was die aard van die kunsvorm. Daar is slegs op
tweedimensionele kuns van, soos reeds genoem, ‘n ernstige aard
gekonsentreer. Hierdeur word beeldhoukuns en spotprente
uitgesluit. Die rede dat die kunsvorme nie bespreek word nie,
dui geensins op minderwaardigheid van die kunsvorms nie. So moet
spotprentkunstenaars byvoorbeeld aan hoë eise voldoen want naas
die boodskap wat spotprente moet oordra, moet hierdie grafiese
skepping van hoogstaande kunsgehalte wees, visueel aantreklik en
verkieslik sonder opskrifte wees.
Die laaste faktor wat in ag geneem is, is datums. Vir praktiese
doeleindes is daar slegs op die negentiende- en twintigste eeu
gekonsentreer, aangesien hierdie tydperk die aanvang van
belangrike konflikte in Suid-Afrika kenmerk.
In die tweede afdeling is daar eerstens na die algemene basiese
beginsels van bewaring gekyk wat internasionaal van toepassing
is. Bronne oor die bewaringsfunksies van 'n museum is uiters
volop en met H J Plenderleith se The conservation of antiquities
and works of art, M A Thompson se Manual of Curatorship en
G Thomson se Museum Environment as basis is die essensie van
bewaring uitgelig. Daar is deurentyd in gedagte gehou dat by die
toepassing van bewaringsmaatreëls en aankoop van sekere
toerusting, kostes so laag as moontlik gehou moet word. Die
SANMKG is nie 'n kunsmuseum nie en die kunsversamelings vorm
slegs 'n klein gedeelte van die totale aantal versamelings by die
museum gevind. Bewaring van die versameling het tot onlangs
redelike beperkte aandag geniet. Dit is egter te danke aan
generaal-majoor P Pretorius, die direkteur van die Museum, meneer
T Bartmann, assistent-direkteur en meneer C Holiday dat die
belangrikheid van die versameling se bewaring besef is en dat
daar nou defnitiewe stappe in die rigting geneem kan word.