Abstract:
In Oktober 1976 het die skrywer, destyds vakkundige vir Volkekunde aan die Kultuurhistoriese en Opelugmuseum in Pretoria, ‘n uitnodiging ontvang
om die eerste uitstalling van beeldhouwerke van Samson Makwala aan die
huis van Prof. C.W.H. Boshoff in Pretoria te besoek. Die direkte aanleiding vir hierdie uitnodiging was die volkekunde-uitstalling in die
Museum wat die organiseerders van die eerste Makwala-uitstalling juis pas tevore besigtig het. Sonder dat die museum die beeldhouer nog leer ken het, het iemand dus reeds ‘n verband tussen ‘n Volkekunde-uitstalling en die beeldhouer Samson Makwala gesien. ‘n Persoonlike kennismaking met die beeldhouer en sy werke het by sy uitstalling in November plaasgevind. Dit het dadelik opgeval dat ‘n mens hier te doen het met ‘n besonder begaafde man. Daar is aan die een kant die estetiese sy van die werke wat baie bevredig het, maar dan was daar die temas wat as onderwerpe gekies is wat vir veral die volkekundige besonder treffend is. Stamlede in tradisionele drag, is uitgebeeld waar hulle met aktiwiteite besig is, byvoorbeeld die voorbereiding van voedsel, die opleiding van inisiante, insameling van veldkos, en derglike meer.
Die trefkrag van die werke lê ook in die natuurlike houding waarin die figure uitgebeeld is, en verder in die goeie gebruik van die twee media
waarin die beeldhouer werk: bosveldhoutsoorte en seepsteen. Tegnies was die beeldhouwerke goed afgewerk en het netjies vertoon. Die beperkinge en die moontlikhede wat die materiaal gebied het, is kunstig deur die
beeldhouer benut.
Die besoek aan hierdie uitstalling aan die huis van prof. Boshoff het die gedagte laat ontstaan dat sulke beeldhouwerke goed tot hulle reg sou
kom in die Volkekunde-uitstalling van die museum. Ds. H.F. Verwoerd, sendeling in Lebowa in die tuisgebied van Makwala, was grootliks verantwoordelik vir die eerste uitstalling van Makwala se werke. Nadat die
gedagte van ‘n uitstalling in die museum teenoor hom genoem is, is hy en
Makwala genooi om die Volkekunde-uitstalling te kom bekyk.
Albei was baie geesdriftig oor die gedagte en het die volkekundige
atmosfeer van die museum se uitstalling as ‘n goeie omgewing vir die
beeldhouwerke beskou. So het die plan posgevat om ‘n tydelike uitstalling van Samson Makwala se werke aan te bied in die Volkekunde-afdeling van die museum. Op tentatiewe basis is daar besluit om ongeveer ses maande later so ‘n uitstalling aan te pak. Dit sou sowel die beeldhouer as die museum die
geleentheid bied om daarvoor voor te berei.