Abstract:
Openbare regeringsgesag, wat binne ʼn konstitusionele orde uitgeoefen word, is ʼn deurlopende
essensie van die politiek en die konstitusionele reg. Die huidige territoriale staat, waarin ons
ons tans bevind, is bloot een van verskeie verskyningsvorme waarbinne openbare gesag
uitgeoefen word.1 Dit is nie permanent nie. Ingelui deur Engeland en Frankryk het die territoriale
staat ʼn duidelik aanduibare ontstaan gedurende die sestiende en sewentiende eeue beleef en
as historiese verskynsel is dit onvermydelik bestem om ook tot ’n einde te kom. Diegene wat
met die territoriale staat omgaan asof dit bykans a-histories en tydloos is, kan hulself gerus
daaraan herinner dat selfs Thomas Hobbes wat die magtige Leviatan in goddelike terme beskryf
het, darem begryp het dat dié god oplaas ʼn tydelike – sterflike – god is.