Abstract:
Die hoofdoel van die studie is om H.A. Aschenborn
as mens en as kunstenaar te benader op grond van sy
nagelate kunswerk; en waar moontlik, sy beeldende
werk te projekteer teen die agtergrond van sy literêre
werk. Dit kan nie oorgesien word dat daar wel 'n
noue verband is tussen die geproduseerde werke op die
twee gebiede, en dat sy dig en ander literere werke
ons ook sy teken-, skilder- en grafiese werke beter
laat verstaan.
H.A. Aschenborn is reeds geruime tyd oorlede en
aangesien sy werke wyd versprei is en daar ook 'n groot
deel vernietig is deur 'n brand gedurende die eerste
wêreldoorlog, kon ek slegs met veel moeite die materiaal
versamel vir hierdie verhandeling, aangesien dit betrekking
het op minstens Suid-Afrika, Duitsland, Oos-Afrika
en die hele Suidwes-Afrika wat sy arbeidsgebied uitgemaak
het. Ongelukkig het tot hiertoe 'n behoorlike oorsigtelike studie oor hom nog nie verskyn nie. Ek
wil verder graag die aandag daarop vestig dat baie min
van Aschenborn se werke gedateer is, en ek die behandeling
daarvan volgens die motiewe moes rangskik, en nie
kronologies volgens periodes kon bespreek nie. Ek
het egter daarna getrag om binne die bespreking van 'n
sekere motief 'n ontwikkeling in styl aan te dui.
Dikwels was dit ook onmoontlik om 'n sekere volgorde
of rangskikking van werke konsekwent tot by die end
van die verhandeling deur te voer, te wyte aan talryke
ontbrekende gegewens.
Ek wil egter die hoop koester dat hierdie verhandeling
'n beter begrip van, en 'n gesondere waardering
vir hierdie kunstenaar sal opwek; en dat dit ander
belangstellendes sal aanspoor om nog meer aandag aan
sy prestasies op kunsgebied te bestee.