Abstract:
Eerstens word 'n kort geskiedenis van die ontwikkeling van die fotostaatmasjien
gegee. Daar word ook gelet op tegniese inligting wat die
nodige agtergrond moet bied ten opsigte van die werking van 'n fotostaatmasjien.
Die fotostaatmasjien is oorspronklik ontwerp om akkurate
kopiee van dokumente, veral in 'n kantooropset, te maak. In 1945 het
die Batelle Memorial Institute van Ohio in Amerika begin navorsing doen
oor die moontlikhede vir die meganiese kopiering van dokumente. Hierdie
navorsing is gebaseer op 'n idee van Chester F. Carlson. Hy het ingesien
dat elektrostatiese kragte en die beginsel van fotosensitiwiteit
gekombineer kan word om meganiese reproduksies te maak.
Daar word tweedens gekyk na die unieke karaktereienskappe van die fotostaat.
Om hierdie eienskappe uit te lig, word 'n fotostaat met 'n foto
en 'n rekenaarbeeld vergelyk. Vermeer word gebruik as 'n voorbeeld van
'n kunstenaar wat 'n visuele hulpmiddel, naamlik die camera obscure, gebruik
het. Hy het egter nie net die inligting wat hy so verkry het,
slaafs nagevolg nie maar selektief daardie eienskappe van die camera
obscure geneem wat sy werk kon versterk. Die eienskappe van die fotostaatmasjien hou veral moontlikhede in indien die elemente van kleur,
komposisie en ruimte in ag geneem word.
Die fotostaat kan derdens ook saam met ander tegnieke gebruik word.
Omdat soveel kopieerwerk in die vervaardiging van 'n animasiefilm benodig
word, kan 'n fotostaatmasjien hier ingespan word. Die fotostaat het
spesifieke eienskappe wat aangewend kan word in die beeldende kunste.
Vierdens word die Renaissance en Post-Renaissance se realistiese piktorale
tradisie beskou as 'n konstante uitbreiding van teoriee oor persepsie.
Lineêre perspektief kan beskou word as 'n uitbreiding van die
teoriee oor persepsie. Vanaf die Renaissance is hierdie stelsel, wat
deur Alberti ontwikkel is, gebruik om 'n gestruktureerde weergawe van 'n
gedeelte van die spektrum van die realisme uit te beeld. Die camera
obscure en latere kamera is op die beginsels van realisme soos ontwikkel
in die skilderkuns geskoei. Die fotostaatmasjien maak nie gebruik van
Lineêre perspektief nie, maar brei die totale begrip van persepsie uit
en lewer dus ‘n bydrae tot die realistiese piktorale tradisie.
Vyfdens word gekyk na aspekte van die kreatiewe proses en die rol wat
die tegnologie daarin kan speel. ‘n Vrugbare verbeelding benodig ‘n
groot verskeidenheid idees om die moontlikheid van nuwe assosiasies en
idees te vergroot. Om ‘n versoening tussen twee skynbaar onverenigbare
elemente te bewerkstellig, met ander woorde om konflik te hanteer, is ‘n
fundamentele element van kreatiwiteit. In beide ‘n vrugbare verbeelding
en konflik kan meganiese prosesse die kunstenaar blootstel aan ‘n groter
verskeidenheid visuele idees as wat hy self sou kon voorsien. Dit kan
dus lei na ‘n nuwe insig.
Meganiese prosesse en die fotostaatmasjien in die besonder het dus baie
beslis gebruikstoepassings in die beeldende kunste.