Abstract:
Statisties word kinders met gestremdhede meer gereeld mishandel as kinders sonder gestremdhede.
Hierdie tendens dui daarop dat sodanige kinders kwesbaar is en meer dikwels
as kinders sonder gestremdhede die hulp van toeganklike regstelsel kan benodig. Artikel
13 van die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede
bepaal dat die reg ook vir persone met gestremdhede toeganklik moet wees. Met die
inwerkingtreding van die Kinderwet 38 van 2005 is erkenning gegee aan hierdie spesifieke
reg van kinders met gestremdhede. Ten spyte van die riglyne wat artikel 13 verskaf, blyk
dit dat die Kinderwet, asook die Suid Afrikaanse regering, sukkel met die implementering
van hierdie bepaling. Meer word dus van al die betrokke partye geverg om te verseker dat
wanneer kinders met gestremdhede die hulp van die reg benodig dit sowel toeganklik as
ontvanklik vir hulle behoeftes is.