Abstract:
In hierdie saak het die respondent die appellant suksesvol in die hoë hof vir skade weens
onregmatige arrestasie en aanhouding, kwaadwillige vervolging en aanranding gedagvaar.
Die respondent is vir meer as 20 maande aangehou aangesien die saak telkemale uitgestel
is voordat hy uiteindelik vrygespreek is. Die appellant het ten opsigte van die aanhouding
geappelleer en aangevoer dat die onregmatige aanhouding tot einde gekom het toe die
landdros die respondent se verdere aanhouding gelas het. Die Hoogste Hof van Appèl het
aanvaar dat selfs indien die arrestasie onwettig was, die hof wettiglik ingevolge artikel
50(1) van die Strafproseswet die verdere aanhouding van gearresteerde persoon kan
gelas. Die hof wys egter daarop dat bevel ingevolge artikel 50(1) nie outomaties die
verdere aanhouding regmatig maak nie. Dit hang van die feite van elke geval af. Die
Hoogste Hof van Appèl bevind dat die polisie opsetlik die aanklaer en die landdros mislei
het met die gevolg dat daar inbreuk gemaak is op die respondent se reg tot vryheid en
sekuriteit. Die skrywer wys daarop dat die Hoogste Hof van Appèl nie nuwe rigting
ingeslaan het nie maar ook voorsiening gemaak het vir die situasie waar die hofproses
misbruik is. Die polisie se plig tot eerlikheid, openlikheid en integriteit word ook bespreek.
Daar word geargumenteer dat die Hoogste Hof van Appèl se benadering in lyn met ons
basiese begrip van geregtigheid is. Die skrywer wys daarop dat die Hoogste Hof van
Appèl se steun op die respondent se reg tot vryheid en sekuriteit problematies is maar dat
artikel 34 tot die redding kom. Daar word geargumenteer dat daar in die onderhawige
geval ook inbreuk op die aangehoudene se reg op effektiewe regsbystand was en dat die
respondent sy aanhouding ingevolge artikel 35(2)(d) kon betwis het.