Abstract:
Enkele Suidwes kunstenaars het in die jongste tyd sterk op die voorgrond getree. Die werk van Adolph Jentsch en Fritz Krampe vorm vandag deel van al die versamelings van die vernaamste kunsgalerye in Suid-Afrika en hul kuns is gesogde voorbeelde in privaat versamelings hier te lande. Andere soos Otto Schroeder en Joachim Voigts het in hul eie reg ‘n plek gevind in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis. Die bydrae wat H.A. Aschenborn tot ons kultuurbesit gelewer het is alom bekend en trouens, ook al wetenskaplik deeglik beskryf. Die posisie wat hierdie kunstenaars in die Suid-Afrikaanse kunsontwikkeling inneem, maak dit noodsaaklik dat daar indringend na hul werk gekyk word, dit esteties ontleed en in historiese perspektief geplaas word. Hierdie studie het ten doel om, alhoewel dit sekerlik nie as die finale woord beskou word nie, ten minste aanvoorwerk in die rigting te doen. In enige kunsgeskiedenis is daar noodwendig ‘n groot groep kunstenaars wat, ofskoon hulle n belangrike bydrae gelewer het, deur latere generasies vergeet word. Suidwes-Afrika het baie
sulke gevalle. Axel Eriksson en Carl Ossmann het albei nuwe rigtings vir die diereuitbeelding en die landskapskildering aangetoon en in die Suidwes-kunsontwikkeling ‘n belangrike rol
gespeel. Erich Mayer het nie net sy voltydse kunsloopbaan in Suidwes begin nie, maar ook ‘n motiewe-wêreld betree wat uniek is in die Suidwes-Afrikaanse kuns. Tog is hul werk, met uitsondering van Mayer se Suid-Afrikaanse skilderkuns, vandag so te sê onbekend aan die grootse deel van ons kunsliefhebbers. Die skrywer wil ook hierdie minderbekende skilders opnuut aan die leser voorstel. Hierdie proefskrif is ‘n voortsetting en terselfdertyd die logiese afsluiting van ‘n navorsingsprojek waarvan die eerste gedeelte enkele jare gelede saamgebring is onder die titel: “Die historiese ontwikkeling van die beeldende kuns in Suidwes-Afrika". Terwille van volledigheid word sekere biografiese materiaal wat reeds daarin verskyn het, weer gebruik.