Abstract:
Die naam Jan van Nouhuys is in hedendaagse kunskringe vrywel heeltemal onbekend. Die enigste kunsboek waarin sy naam tot op datum vermeld word, is die van Esme Berman,
“Art & Artists of South Africa”. Selfs in hierdie boek het die verwysing slegs betrekking op sy deelname aan die uitstalling van Suid-Afrikaanse kunstenaars tydens die Rykskou van 1936 in Johannesburg. In die kunslewe van ons land was Van Nouhuys dus vir alle
praktiese doeleindes reeds al vergete. Die volgehoue oortuiging egter van een enkele persoon dat Van Nouhuys se kuns hoogstaande kwaliteite besit en dus bewaar behoort te word het, voorkom dat sy werk heeltemal in die vergetelheid sou verdwyn. Hierdie persoon is mej. 0. Bär, tans woonagtig in Pretoria, wat Van Nouhuys sedert 1930 geken het. As kunsliefhebber, wat ook baie van die kunstenaar se ander belangstellings, soos sy liefde vir die natuurlewe gedeel het, was sy in ‘n besondere posisie om stilswyend Van Nouhuys se kunsontplooiing waar te neem. Hierdeur het sy op hoogte gekom van die wyse waarop baie van sy werk ontstaan het en onder watter omstandighede hy gewerk het. Gedeeltelik kon sy hom selfs met sekere take help, soos met die voorbereiding van sy eie olieverfkleure, die behandeling van sy voltooide skilderye, die fiksering van sy tekeninge en die sistematiese optekening van al sy kunswerke. Na Van Nouhuys se dood in 1940, het mej. Bär, deur ‘n sameloop van omstandighede, in besit gekom van die oorgrote deel van sy nagelate werk. Sodoende was sy in staat om in die begin van 1944 ‘n herdenkingsuitstalling vir Van Nouhuys in die MacFadyensaal, Pretoria, te organiseer. Mej. Bär se besluit om in 1969 die grootste deel van haar Van Nouhuys-versameling aan die Kunsmuseum van Pretoria oor te dra, het vir my aanleiding geword om 'n studie oor hierdie kunstenaar en sy werk te onderneem. Hierdie taak is baie vergemaklik deur mej. Bär se besonder vriendelike en entoesiastiese samewerking; tenspyte van haar hoë ouderdom het sy uit haar pad gegaan om my in verbinding te stel met almal wat Van Nouhuys persoonlik geken het, met die opsporing van ‘n hele aantal van sy kunswerke, die beskikbaarstelling van haar uitgebreide gegewens oor Van Nouhuys se kunsproduksie, asook ‘n aantal swart-witfoto’s van skilderye wat nie beskikbaar was nie of wat nie opgespoor kon word nie. Sonder haar gewaardeerde hulp sou hierdie studie baie moes inboet aan volledigheid.