Abstract:
Voordat die tema "Die vormende invloed van die Duitse Ekspressionistiese beweging op die skilderkuns van drie Suid-Afrikaanse kunstenaars" sal bepaal kan word ontstaan eerstens die vraag: "Wat is eintlik 'Duitse Kuns'?" en voorts - "Is daar kenmerkende elemente in die Duitse kuns wat as wesenstrekke uitstaan bo die kuns van ander nasies en dit laat verskil daarvan?" Hierdie vraag verleen aan die tema dadelik 'n faset van volkstipering. Dit is 'n kategorisering wat in die eie land maklik tot 'n subjektiewe nasionaliteitsbewustheid kan lei; 'n neiging wat op die oomblik in Duitsland baie sterk afgekeur word. Vanuit die objektiewe Suid-Afrikaanse oogpunt beskou, is hierdie tipering van 'n volk en sy kuns egter nie slegs aanneemlik nie, maar ook uiters noodsaaklik omdat die Suid-Afrikaanse kultuur afkomstig is van die veelvolkige Europese kultuurbeskawings. Hierdie oogpunt word baie duidelik gestel deur Albert Werth: "….Nieteenstaande al die gevare aan (…) 'n poging verbonde om iets gemeenskapliks of 'nasionaal' aan 'n land se kuns toe te ken, kom ons tog te staan voor die onbetwisbare feit dat daar by die betragting van elke individuele land se kuns, 'n spontane erkenning en aanvaaring van iets algemeen-kenmerkends daarvan is. Ons praat byvoorbeeld van die tipies Franse tradisie wat betref helder kleurgebruik in die skilderkuns, blyheid en opgewektheid van lewensiening en bevallige fynheid van styl. Ons erken die Duitse somberheid en deurdagtheid, die gebruik van sterk, swaar kleure in die skilderkuns, die Duitse voorliefde vir die Gedankenmalerei en vir die romantiese ideevlugte waarby
hulle musiek nog altyd hul skilderkuns oortref het. Tiperend van die Hollandse skilders is hulle voorliefde vir die opwekking van 'n dampige, grys-newelige atmosfeer en tonalisme, hul sterk visuele instelling…" Hierdie stelling van Albert Werth is die uitgangspunt vir die bewysvoering in hierdie werkstuk. Die tema sal in die bestek van twee dele uiteengesit word. Ook die hipotese waarop die bewysvoering berus, is soos volg in twee dele verdeel:
1. Daar bestaan kenmerkende eienskappe in die Duitse Kuns.
2. Hierdie kenmerke word weer opnuut gevind in die Suid-Afrikaanse kuns as gevolg van Duitse beinvloeding.
Ter illustrasie van die tweede hipotese word drie Suid-Afrikaanse skilders, Irma Stern, Maggie Laubser en Pranas Domsaitis van naderby in oënskou geneem. Hulle word beskou as die vernaamste ekspressionistiese skilders in die Suid-Afrikaanse kuns. Hulle vernaamste en mees direkte agtergrond is die Duitse Ekspressionisme en hierdie fase van die Duitse kuns sal derhalwe besonder noukeurig ontleed word.