dc.description.abstract |
Steynberg staan vandag by uitstek bekend as die skepper van monumentale werk ten spyte van die feit dat hy reeds talle persoonlike werke geskep het. Dat dit gebeur het, is hoofsaaklik te wyte aan die feit dat toe hy in 1934 teruggekeer het na SuidAfrika, hy net betyds was om die mantel van Van Wouw oor te neem, as skepper van volksmonumente. Hy was destyds die enigste beeldhouer wat oor die nodige kwaliteite beskik het om Van Wouw se werk te kan voortsit op die gebied van monumentale beeldhoukuns. Daar is egter ‘n opmerklike verskil tussen die benadering van die twee kunstenaars. Van Wouw het sy werk voortgebring nie alleen omdat dit gepas het by die smaak van die volk nie, maar ook omdat dit beantwoord het aan sy vermoë. Hy het die monumente met groot liefde vir die saak geskep. Daarenteen vind ons dat Steynberg veel eerder vrye persoonlike werk wou skep, maar omdat die mense
sy vrye werke nie sou waardeer nie, en omdat daar geen ander beeldhouer was wat Van Wouv kon opvolg nie, het by dit as ‘n plig en uit liefde teenoor sy volk aanvaar, om Van Wouw se mantel as Afrikaanse volksbeeldhouer oor te neem. Verder vind ons dat Van Wouw gewerk het in suiwer romanties-realistiese styl volgens die volksmaak terwyl Steynberg ook realisties gewerk het, maar daarby probeer het om sy persoonlike kunstenaarsgevoel te bevredig. Dat Steynberg dit reggekry het in sommige van sy gestileerde werke soos sy simboliese en dekoratiewe werk, is duidelik. Ons dink hier veral aan sy Vereeniging-monument. Indien Van Wouw wel in gestileerde styl gewerk het, sou openbare mening destyds hom waarskynlik gou teruggedryf het na die realisme. Steynberg het die maak van monumentale werke oorgeneem van Van Wouw en so besig was hy later, dat hy geen tyd oorgehad het vir vrye persoonlike skeppinge nie. Hierdie toestand het voortgeduur tot ongeveer 1947 toe Steynberg homself feitlik nie meer kon keer nie en mede onder aandrang van vrou en vriende, binne vier jaar ‘n groot aantal van sy beste persoonlike skeppinge gelewer het. In 1951 hou hy sy eerste tentoonstelling en sindsdien het hy gereeld sy aandag aan persoonlike werk gegee sodat hy in 1960 sy tweede tentoonstelling gehou het. Sy monumentale werk het hy egter nie laat staan nie en vandag sien ons nog gereeld nuwe monumente van hom wat opgerig word. Dat Steynberg deur baie persone vandag nog eintlik beskou word as die skepper van monumente, is dus verstaanbaar, maar bly nietemin ongelukkig omdat dit maar een deel van sy arbeid in ag neem. Dit is ‘n onjuiste denkbeeld wat verbeter moet word, alhoewel die tekens reeds daar is dat hy in die eerste plek as skepper van vrye persoonlike werke, en slegs tweedens as skepper van monumentale werk opgevat sal moet word. Tussen Steynberg se monumente en sy persoonlike werk is daar oor die algeneen ‘n groot verskil; en van die twee is laasgenoemde, esteties gesproke, sy beste werk. Sy monumentale beeldhouwerk is gewoonlik opdragte wat die voorstelling vereis van een of ander historiese figuur, of van ‘n historiese gebeurtenis of ‘n dekoratiewe werk op n gebou. Hulle word uitgevoer onderhewig aan die goedkeuring van ‘n liggaam. Wat die styl betref is die historiese figure meestal realisties terwyl die gebeurtenisse en dekorotiewe werke gestileerd is. Wat sy monumentale werk betref, was daar dus weinig vrye uiting. Vir sy persoonlike werke daarenteen was dit die teenoorgestelde, deurdat hulle volkome vrye skeppinge van sy fantasie is. In hierdie werke het hy sy eie innerlike dinge vrylik tot uitdrukking laat kom en kon hy onafhanklik van enige komitee self sy onderwerpe, media en styl kies. In sy persoonlike werk sien ons dus vir die eerste keer die ware, volle kunstenaar te voorskyn tree. Hier het Steynberg werklik gewerk soos hy wou en hom ten volle uitgeleef in sy skeppinge. Hy het hart en siel gesit in sy persoonlike werk en sy kunstenaarskap het hier onverhinderd tot uiting gekom. Esteties gesproke is sy persoonlike werk dus van groter waarde as sy monumentale. Vandag is Steynberg gelukkig nie meer so afhanklik van opdragte nie, net die gevolg dat hy al hoe meer tyd aan die skepping van sy ryke verbeelding kan bestee. Die doel van hierdie studie is om daarop te wys dat ten spyte van die belangrikheid van sy monumentale werk, sy aanspraak as ‘n groot kunstenaar eerstens berus op die betekenis van sy vrye
persoonlike werk en slegs tweedens op sy monumentale werk. Wat Steynberg bereik het op monumentale gebied is groot, maar wat hy bereik het op die gebied ven die vrye kuns, is nog groter. Hy het in sommige van sy persoonlike stukke, werke gelewer van wêreldgehalte. Hierdie studie wil in besonder die betekenis van Steynberg se persoonlike werk beklemtoon en hom juis daardeur as beeldhouer in beter perspektief na vore probeer bring, veral by diegene wat in hom tot nog toe bloot ‘n skepper van monumente gesien het. Terselfdertyd moet die betekenis van sy monumentale werk nie onderskat word nie. ‘n Afsonderlike hoofstuk daaroor in hierdie ondersoek, hoewel die hoofaandag elders val, is in elkgeval noodsaaklik, enersyds omdat dit gedien het as leerskool vir die ontwikkeling van sy eie tegniek en endersyds omdat dit 'n groot invloed uitgeoefen het op die gebied van die monumentale beeldhoukuns in Suid-Afrika veral wat betref styl, media en oorspronklike
ontwerp van monumente. Steynberg het geleidelik die ontwerp van monumente gerevolusioneer en ons vind in sy laaste werk, naamlik die “Vereeniging monument”, ‘n hoogtepunt deurdat hy hier ‘n monument met ‘n historiese motief geskep het, heeltemal gestileerd en in twee verskillende materiale uitgevoer - een selfs in die allermodernste vorm van ligte metaal. Die sterk gestileerde vorm en die gesamentlike gebruik ven twee wesenlik verskillende material is ook baie ‘n belangrike aspek in sy persoonlike werk; en ons sien hierin hoe sy monumentale werk en sy persoonlike werk mekaer meermale oor en weer beinvloed het. Om sy monumentale werk te wil verbygaan of onderskat sou dus heeltemal verkeerd wees. Al sy monumentale werke word egter nie bespreek nie, alleen die belangrikste en kenmerkendste, maar volledigheidshalwe verskyn daar ‘n volledige lys van al sy werke, agter in hierdie studie. Soos vorentoe verduidelik, is die nadere doel van hierdie ondersoek om aan te toon dat Steynberg se aanspraak as kunstenaar eerstens berus op sy persoonlike werk. Verder wil ons aantoon die uiters belangrike rol wat Steynberg en sy persoonlike werk speel in die Suid-Afrikaanse beeldhoukuns as sodanig. Wat betref sy media, het Steynberg ook in sy persoonlike werk baanbrekerswerk gedoen deur vir ons te toon watter groot verskeidenheid van materiale daar in ons land bestaan - materiale waaraan beeldhouers voorheen moontlik nooit eers gedink het nie. Feitlik elke beeld is in ‘n ander medium of n variasie van bekende mediums (ons kan maar net dink aan al sy houtsoorte), en daardeur kom ook sy buitengewone vakkennis tot uiting. Hy is een van die goeie Suid-Afrikaanse beeldhouers, wat steeds op hoogte van Europese stylrigtings is, daaruit neem wat hom pas, en tog altyd ‘n tipies Suid-Afrikaanse karakter bly openbaar, altans tot sy jongste werk.
Hierin het hy nou ontwikkel tot beoefenaar van die mees moderne abstrakte vorm waar hy vir die eerste keer sy eg Suid-Afrikaanse karakter feitlik prysgee vir n internasionale benadering. Sinds hy egter op die toneel gekom het in 1934, tot vandag toe, oorheers hy byna deurgaans die Suid-Afrikaanse beeldhouwêreld, eers op monumentale gebied, later ook op gebied van die persoonlike kuns. Bogenoemde feite maak hom nie alleen ons grootste beeldhouer nie, maar ook ons grootste Suid-Afrikaanse beeldhouer. Daar is verskillende beeldhouers wat werk lewer van ongeveer dieselfde gehalte as Steynberg, maar in teenstelling met Steynberg bly hulle steeds oorwegend Europees ingestel en toon ook nie daardie grootheid van visie soos ons sien in Steynberg se werk nie. Dat Steynberg vandag dus beskou word as ons grootste Suid-Afrikaanse beeldhouer, is veral te danke aan sy persoonlike werk, en dit is hierdie feit wat ek wil beklemtoon in my studie, omdat dit sy oortuiging is dat hy alleen langs hierdie weg in die regte lig gesien kan word
en waardeer kan word as die grootste nasionale (in die breë sin van die woord) beeldhouer van Suid-Afrika. |
en_ZA |