Abstract:
In hierdie artikel word die impak van die ontwikkeling van menslike genetiese
toetse, en die reg op inligting wat in die toetsresultate vervat word, bespreek.
Die individu se gemeneregtlike en grondwetlike regte op privaatheid en sy individualiteit
word deur die openbaarmaking van inligting wat hy as konfidensieel
mag beskou, bedreig. Die reg op toegang tot inligting word in die lig van die
relevante Grondwetlike bepalings, die Wet op Elektroniese Transaksies en
Kommunikasies, die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, die Wet
op Finansiële Adviseurs en Tussengangers, die Wetsontwerp op die Beskerming
van Persoonlike Inligting sowel as internasionale wetgewing, die menings van
skrywers en ander organisasies soos die Life Offices Association, ontleed. Die
moontlikheid dat die aanwending van sodanige inligting deur die versekeraar
tot genetiese diskriminasie aanleiding kan gee, word bespreek. Laastens word
die statutêre verpligtinge van ’n versekeraar om data te beskerm en verantwoordelik
te bestuur, kortliks ontleed.