Abstract:
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika waarborg gelykheid van mans
en vrouens. Hierdie artikel ondersoek die huidige toedrag van sake in swart
gemeenskappe in die lig van die tradisionele partriargale lewenswyse. Die wetgewer
het onder die huidige menseregtebedeling aansienlike vordering gemaak
om ongelykheid uit te wis, onder andere, deur mans en vroue in gebruiklike
huwelike op gelyke voet te stel. Daar is egter nog terreine soos die funksies van
lobolo en poliginie wat verdere oorweging verg. Die skrywers wys egter daarop
dat verdere wetgewing nie noodwendig al is wat nodig is nie. Diep-gewortelde
opvattings oor die status en rol van mans en vrouens verg ’n verandering in
gesindheid.