Abstract:
Ek het die opdrag om oor André P. Brink en ideologie te
praat.1 Met ideologie verstaan ons gewoonlik die idees, of
die belange en waardes waarmee elkeen van ons, of die
groepe waarin ons ons bevind, ons wêreld beding. Ons
waardeoordele en oortuiginge is nie uitermate individueel
nie; in ’n sin is daar ’n historiese bepaaldheid vir hoe ons
dink en waarom ons juis só dink. Hoe byvoorbeeld staan
ons tot die ekonomiese magsverhoudinge in ons samelewing?
Is ons in stryd met ’n bepaalde magsomgewing of
reproduseer ons daardie ekonomiese, politieke en sosiale magsverhoudinge? Waarom
dink ons soos ons dink? Waarom dink ons nie anders nie? En waar kom al die
waardes wat ons so verdedig of teenstaan dan vandaan? Dié opvatting van ideologie
beteken egter nie ’n predeterminasie wat vóórkom dat die individuele skrywer nie
téén sy omgewing, téén sy historiese agtergrond en téén ’n magstruktuur kan inskryf
nie.