Abstract:
In sy respons op my artikel “Die historisiteit van resente Afrikaanse historiese fiksie
oor die Anglo-Boereoorlog” in Tydskrif vir letterkunde gee Willie Burger indrukwekkende
verwysings na die teorie van historiese fiksie. Ongelukkig bied die literatore
wat hy aanhaal slegs ’n letterkundige perspektief. Hulle neem nie die historikus se
hoek in ag nie.
Volgens Burger (92–3) verwys Milan Kundera na twee soorte historiese fiksie. Die
een ondersoek die historiese dimensie van die mens en die ander maak van ’n historiese
situasie ’n romantiese verhaal. Laasgenoemde is nie vir Kundera werklik ’n roman
nie, want dit bring geen verandering aan ons verstaan van die mens nie—dis fiksie
wat bloot die geskiedenis op ’n romanmatige wyse weergee. Vir hom is die taak van
die letterkunde nie om geskiedskrywing te wees nie, maar om die ongekaarte terrein
van ons bestaan te ondersoek.