Abstract:
Die huidige stelsel van Suid-Afrikaanse kledinggroottes word gebaseer op die Westerse ideale liggaamsvorm. Maar die meeste Suid-Afrikaanse vroue van Afrika-afkoms het ’n driehoekige liggaamsvorm. Die driehoekige liggaamsvorm verskil van die Westerse ideale liggaamsvorm waarop klere wat dragereed (‘ready-to-wear’) is, tans gebaseer word, en dit is ’n bydraende faktor tot die probleme wat Suid-Afrikaanse vroue van Afrika-afkoms ondervind met die kwaliteit van passing van sodanige dragereed-kledingstukke. Die doel van hierdie studie was derhalwe om grootte-spesifikasies te ontwikkel vir jong Suid-Afrikaanse vroue van Afrika-afkoms met driehoekige liggaamsvorme. Die grootte-spesifikasies is ontwikkel vir jong vroue van medium lengte, ouderdom tussen 18 en 25 jaar, en wat in die 6/10- tot 14/38-groottereeks val. Die antropometriese data wat in die studie gebruik is, is verkry uit ’n substel van die antropometriese databasis wat in Makhanya et al (2014) gebruik is. Die metodologie van die ontwikkeling van die grootte-spesifikasies was soos volg: selektering van die horisontale sleuteldimensies, bepaling van die groottereeks, en berekening van die sekondêre dimensies. Ten einde die horisontale sleuteldimensies te selekteer, is Pearson se korrelasiekoëffisiënt (rxy) in Microsoft Excel bereken. Die borsmaat het oor die algemeen beter korrelasie met meeste van die horisontale mate getoon, vergeleke met die korrelasie tussen die heupe en meeste van die horisontale mate. Die borsmaat is derhalwe geselekteer as die horisontale sleuteldimensie vir die studie. Ten einde die groottereeks vir die grootte-spesifikasies te bepaal, is die antropometriese data in verskillende groottes verdeel, volgens die huidige industriepraktyk. Meeste van die antropometriese data het in die 6/30- tot 14/38-groottereeks geval; die groottereeks was dus beperk tot hierdie groottes. ’n Statistiese tegniek genaamd kleinstekwadrate-regressieontleding (‘least-squares regression analysis’) is gebruik om die sekondêre dimensies te bereken, weens die klein grootte van die steekproef van antropometriese data wat in die studie gebruik is. Die grootte-spesifikasies wat in die studie ontwikkel is en die grootte-spesifikasies wat in die Suid-Afrikaanse kledingindustrie gebruik word, is vergelyk, om die kernverskille tussen die voorgestelde grootte-spesifikasies en die grootte-spesifikasies wat in werklikheid in die Suid-Afrikaanse kledingindustrie gebruik word, te illustreer. Die vergelykende ontleding het aangedui dat jong Suid-Afrikaanse vroue van Afrika-afkoms met ’n driehoekige liggaamsvorm ’n losserige passing mag ervaar in die bolyf-gedeelte van kledingstukke wat gemaak is ooreenkomstig die grootte-spesifikasies wat tans in die Suid-Afrikaanse kledingindustrie gebruik word.
Description:
Article based on a paper read at the joint 11th International SAAFECS Conference and the 6th IHEA Regional African Conference, Pretoria, South Africa. 27 February 2013 – 1 March 2013.