Abstract:
Tradisionele klaspraktykonderrig het geskuif van ‘n onderwysergesentreerde benadering na ‘n leerdergesentreerde, of soms ook genoem ‘n leergesentreerde benadering. ‘n Klaspraktyk waar ‘n leerdergesentreerde benadering gevolg word, val die klem op die leerders en die optimalisering van leerders se leerproses. Daar moet geleenthede in die klaspraktyk geskep word vir leerders om sodoende optimale leer te bereik.
Daar word van wetenskaponderwysers verwag om aan verskeie rolle binne die onderrig-en leeromgewing te voldoen. Die KABV dui aan dat wetenskaponderwysers ‘n navorsingrol sowel as ‘n leerfasiliteringsrol in sy/haar klaspraktyk moet vervul. Dit is die wetenskaponderwyser se verantwoordelikheid om leergeleenthede te skep en leergeleenthede te fasiliteer.
Die doel van leerfasilitering berus onder andere op die skep van leergeleenthede en leerdergesentreerde onderrig. Om aan die vereistes van ‘n leerfasiliteringsrol te voldoen het die wetenskaponderwyser vakkennis, prosesvaardighede en leerfasiliteringsvaardighede nodig. Die KABV verwag ook van wetenskaponderwysers om ‘n navorsingsrol in die klaspraktyk in te neem. Wanneer dit kom by die voorbereiding en leerfasilitering van die leerproses is dit belangrik dat die wetenskaponderwyser ‘n navorsingsrol moet inneem. Navorsing behels onder andere die insameling van inligting oor ‘n spesifieke onderwerp.
‘n Navorsingsrol vereis dat die wetenskaponderwyser navorsing moet doen rakende leerinhoud, leertaakontwerp en leertaakaanbieding. Wat egter onbekend is in die Suid-Afrikaanse literatuur is die aanwending van navorsing wat gedoen is deur die wetenskaponderwyser in die klaspraktyk.
Wat in die eerste plek uit die studie voortgespruit het, was dat baie wetenskaponderwysers steeds probleme met die konsep leerfasilitering het. Transmissie of direkte onderrig, sowel as aktiwiteite wat deur die onderwysers bestuur word, geniet steeds voorrang in sommige skole.
Die studie het verder gevind dat die meeste wetenskaponderwysers goed voorbereid was vir die aanbiedings wat hulle behartig het, maar dat min voorbereiding gedoen is om ontdekkende leeromgewings vir die leerders te skep. Die meerderheid deelnemers wat aan die studie deelgeneem het was dit eens dat hulle nie noodwendig die tyd en kundigheid het om self navorsing in die klaspraktyk te doen nie. Hulle siening van navorsing was ook beperk tot basiese funksies soos uitgebreide leeswerk, en die raadpleging van webwerwe om inhoud en onderrigmateriaal te bekom. Die studie het ook aangedui dat wetenskaponderwysers eerder navorsing doen om hul kennis te verbeter en vaardighede oor die klaspraktyk te bekom. Omdat die meeste aktiwiteite steeds transmissiegedrewe is, word beperkte geleenthede aan leerders geskep om ontdekkings en ondersoeke in die klaspraktyk te doen.