Abstract:
Die geskiedenis van die kerk in Nederland, al is dit net oorsigtelik, bly belangrik vir
die verstaan van die geskiedenis van die kerk in Suid-Afrika. In 'n sekere sin is dit
vanselfsprekend, want van 1652 tot 1795 is die Kaapkolonie 'n wingewes van die Nederlandse
Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Die Kompanjie wat as owerheid in sy
kolonies opgetree het, het gedurende sy besetting van die Kaap geen ander kerk in
die Kaap toegelaat nie as die publieke kerk van Nederland wat van sy Rooms-Katolieke
geloof gesuiwer is. Dit het beteken dat vir die eerste byna 150 jaar die historiese
gebeure en teologiese ontwikkeling in Europa hoofsaaklik deur 'n Nederlandse
tregter na Suid-Afrika kom. Omdat die kerk in die Kaapkolonie heeltemal verbind
is aan die Kompanjie, word die verskuiwings in die Europese dinkwereld hoofsaaklik
na die Kaap oorgedra deur aankomende predikante, amptenare en derglike
meer. Dit het beteken dat ook nie alles wat in Nederland kerk en wereld beroer
het, na die Kaap deurgewerk het nie.