Human participation in a scarred and frenzied world: C.K. Oberholzer, phenomenology and
Pretoria
This article focuses on the living presence of phenomenology as an intellectual tradition at the
University of Pretoria, and more specifically the role of C.K. Oberholzer (1904–1983) in creating
a space for such reflection. The article consists of four (interrelated) parts: the founding years of
philosophy at the University of Pretoria against the colonial backdrop of the British Empire, and the
rise of Oberholzer under different circumstances in the 1930s; a succinct definition and description
of phenomenology in four chronological waves of influence over the last century; the specific way
in which Oberholzer interpreted and appropriated phenomenology in the Pretoria context; and
finally, the political implications of Oberholzer’s phenomenology and philosophical anthropology
in the apartheid years, the present as well as the future.
Denke is ondenkbaar sonder konteks. Dít impliseer dat betoë en redes in ‘n hedewerklikheid of
hedepraktyk altyd met die geskiedenis verband hou. Anders gestel: Denke in die hede het ‘n
verantwoordelikheid teenoor die verlede ten einde ‘n toekoms te kan hê. Denke is ook dank of
dankbaarheid. Die filosofiese denke aan die Universiteit van Pretoria is in hierdie opsig geen uitsondering
nie. Oor die afgelope honderd jaar het verskillende filosofiese benaderings hier tot uiting gekom. Met
verloop van tyd het daar ‘n wisselwerking tussen filosofiese en teoretiese tradisies aan die een kant, en
die toepassing van hierdie tradisies deur verskillende generasies denkers aan die ander kant ontstaan.
Veral een filosofiese tradisie, naamlik die fenomenologie (en opvolgertradisies soos die eksistensialisme,
wysgerige antropologie, hermeneutiek, kritiese teorie en dekonstruksie), het danksy die onvermoeide
bydrae van C.K. Oberholzer aan die Universiteit van Pretoria ‘n groot invloedsfeer opgebou. Teen
hierdie agtergrond is die bedoeling hier om oor die spore, impak en afloop van die fenomenologiese
tradisie in Pretoriase verband te besin. Waarom het verskeie generasies filosowe gereken dat hierdie
benadering juis in hulle verwysingswêreld toepaslik is? Waarom het juis ‘n fenomenologies-kontinentale
benadering, en nie byvoorbeeld die analitiese benadering nie, so ‘n vrugbare filosofiese kweekplek in
Pretoria gevind? Om bostaande vrae te beantwoord, word hierdie bydrae in vier (interafhanklike)
gedeeltes uiteengesit, naamlik (1) die ontstaan van Filosofie in Pretoria, en die opgang van Oberholzer;
(2) ‘n bondige bespreking van die belangrikste aspekte van fenomenologie; (3) die bepaalde wyse waarop
Oberholzer hom die fenomenologie in Pretoriase verband toeëien; en (4) die politieke implikasies van
Oberholzer se bydrae vir vandag én die toekoms.