Abstract:
Kunstenaarsboeke as multimodale en gelaagde werke is ʼn kunsvorm waardeur konkrete, abstrakte en
konseptuele ruimte op ʼn besondere wyse vergestalt kan word, en as sodanig kan dit ook vereenselwig
word met ʼn bepaalde sin van plek. Die artikel ondersoek en beskryf die gelaagdheid van sin van
plek in Stanley Grootboom se kunstenaarsboek-installasie, Suid-Afrikaanse gêlieblik stories en
liedjies, soos dit beliggaam word deur die gebruik van media en die verskeidenheid stemme, stories
en narratiewe in die werk. Twee gemeenskappe is in die werk ter sprake, naamlik ʼn tradisionele
Khoisangemeenskap
wat 300 jaar gelede in die Tsitsikamma gewoon het, en ʼn eietydse gemeenskap
wie se lewenswyse en tradisies opnuut aan verandering onderhewig
is. Dié artikel poog om, deur die
bespreking van ʼn kunstenaarsboek vanuit ʼn bioregionale perspektief, ʼn bydrae tot die konsep van
bioregionale literatuur te lewer.