Abstract:
Akademiese navorsers en praktisyns verskil wanneer
dit by die klassifikasie, waarde en gebruike
van eksperimente as ‘n bron van primêre data kom.
‘n Eksperimentele ontwerp word as een van vier
voorwaardes vir ‘n kousale navorsingsontwerp beskou.
Die eksperiment kan verskeie vorme aanneem,
en in die veld of in ‘n laboratorium uitgevoer
word. Sommige navorsers beskou voorkeurkeuse
ontleding (conjoint analysis) as ‘n spesiale tipe eksperiment
wat normaalweg in ‘n laboratorium
plaasvind.
As ‘n navorsingsmetode behels voorkeurkeuse ontleding
in wese dat die utiliteitswaarde wat verbruikers
aan sekere vlakke of kombinasies van die
eienskappe van produkte en dienste toeken, afgelei
word. Navorsers en bemarkers kan deur middel van
so ‘n voorkeurkeuse studie byvoorbeeld ‘n beter begrip
ontwikkel van die werklike waarde wat verbruikers
aan produkeienskappe heg wanneer aankoopbesluite
geneem moet word.
Die primêre doel van die artikel is om ‘n teoretiese
oorsig van die aard van voorkeurkeuse ontleding as
‘n navorsingsmetode te gee, en die waarde wat dit
vir navorsers in die bemarkings – en verbruikerswetenskapvelde
inhou, toe te lig. Onlangse studies sal
vermeld word, en die proses om ‘n voorkeurkeuse
ontleding te onderneem, sal aandag geniet.