Abstract:
In Suid-Afrika word daar minimumvonnisse vir, onder meer, verkragting voorgeskryf in artikel 51 van Wet 105 van 1997. Die doel van hierdie vonnisse is om ernstige en geweldadige misdaad te verminder, om kontinuïteit in vonnisse te bevorder en om die publiek tevrede te stel dat vonnisse ernstig en voldoende is. Lewenslange gevangenisstraf word as minimum straf in bepaalde gevalle van verkragting voorgeskryf in Deel I van Bylae 2 van Wet 105 van 1997. Afwyking van hierdie voorgeskrewe minimumvonnisse kan slegs geskied wanneer wesenlike en dwingende omstandighede dit regverdig. Die term ‘wesenlike en dwingende omstandighede’ word egter nie in die wetgewing omskryf nie en word die interpretasie daarvan, ongelukkig, aan die howe oorgelaat om moontlik sodoende regterlike diskresie te behou.
Intra-familiële verkragting is ‘n sosiale probleem wat ‘n groot persentasie van Suid-Afrika se verkragting syfers uitmaak. In die meeste intra-familiële verkragting gevalle sal die voorgeskrewe minimumvonnis, lewenslange gevangenisstraf wees aangesien regspraak toon dat die meeste slagoffers minder as 16 jaar oud is. Regspraak oor die afgelope aantal jare toon egter wisselvallige uitsprake rakende die oplegging van die voorgeskrewe minimumvonnisse vir intra-familiële verkragting. ‘n Groot rede vir hierdie wisselvallige uitsprake is die verskillende interpretasie van wesenlike en dwingende omstandighede.
‘n Balans moet gehandhaaf word tussen die konsekwente toepassing van voorgeskrewe vonnisse en die behoud van regterlike diskresie. Bepaalde vonnisriglyne word vir hierdie doel voorgestel wat voortspruit uit ‘n behoorlike regsvergelykende studie oor die vonnispraktyke van Engeland en Wallis asook Nieu-Seeland.