Abstract:
Suid-Afrikaanse vroulike Muslim-studente volg 'n verskeidenheid van kleding-praktyke. Terwyl party individue baie tradisionele Islamietiese drag dra, volg ander Westerse modes. Hierdie verskille in klere kan aan die akkulturasieproses toegeskryf word. Die kampusomgewing het 'n multi-kulturele konteks. Vroulike Muslim-studente word omring deur nuwe waardes, identiteite en nuwe kledingpraktyke. Die doel van die studie was om die akkulturasie strategieë wat deur vroulike Muslim-studente (wat aan die Universiteit van Pretoria studeer) toegepas word in hul kledinggebruike te verken en te beskryf. 'n Kulturele perspektief is as teoretiese raamwerk gebruik. Die navorsingsontwerp was 'n verkennende ondersoek. Data is met 'n gestruktureerde vraelys ingesamel. Die vraelys is gebaseer op bestaande skale en relevante literatuur om die akkulturasie praktyke van vroulike Muslim-studente aan die hand van hul kledingpraktyke te analiseer. Die akkulturasie praktyke is deur middel van 'n 5-punt Likert-tipe skaal gemeet en 'n „prent‟ skaal is met die samewerking van 'n senior Muslim-student in die Departement Verbruikerswetenskap ontwikkel. Hierdie skaal het nege beelde van klere ingesluit wat verskil het in terme van pas en mate waartoe die liggaam bedek word. Die teikenpopulasie was ingeskrewe vroulike Muslim-studente aan die Universiteit van Pretoria. In 2011 was daar 354 vroulike Muslim studente ingeskryf by die Universiteit van Pretoria. 'n Totaal van 200 voltooide vraelyste wat deur vroulike Muslim-studente tussen die ouderdomme van 17 en 25 jaar voltooi is, is geanaliseer (n=200).
Die oorkoepelende doel van hierdie studie was om die verskillende akkulturasie strategieë wat deur vroulike Muslim-studente se kledingprak-tyke gereflekteer word, te ondersoek en te beskryf. Die resultate het daarop gedui dat die respondente nie in drie groepe verdeel kon word na aanleiding van die akkulturasie strategieë wat hulle volg soos aanvanklik verwag is nie. Die respondente kon wel in twee groepe verdeel word, namens dié wat minder kuise kledingpraktyke volg teenoor dié met meer kuise, tradisionele kledingpraktyke. Die studie het aangetoon dat vroulike Muslim-studente verskillende grade van ‟n bi-kulturele identiteit aanvaar. Hierdie studie maak ‟n bydrae tot kulturele navorsing en kledingge-dragnavorsing in Suid-Afrika. Die feit dat die respondente slegs in twee groepe verdeel kon word op grond van die akkulturasie praktyke wat hulle toepas, dui daarop dat die respon-dente in hierdie studie onwillig is om Muslim herkoms, en gevolglik hul tradisionele klere-drag, te negeer. Hulle verkies om in wissel-werking te tree met ander kultuurgroepe soos tipies van 'n Suid-Afrikaanse universiteits-kampus, en kombineer hul tradisionele drag met elemente van Westerse drag om hul bi-kulturele identiteit te kommunikeer. Sodoende verbeeld hulle beide hul Muslim en Suid-Afrikaanse identiteite.