Abstract:
Jürgen Moltmann se panenteïstiese ontologie en sy oortuiging dat die Drieënige God met die skepping in ‘n dinamiese perichoretiese verhouding is, lei sy logika tot die gevolgtrekking dat tydens die laaste oordeel God alles en almal universeel gaan red. Gegewe egter die huidige ekologiese krisis, is daar nog genoeg tyd oor vir hierdie evolusionêre proses om in die konsummasie van die wêreld te kulmineer? Maar al sou die uiteindelike redding van alle wesens tog wel so realiseer, maak dit enigsins sin dat organismes wat lewe bedreig, ook gered word? Moltmann se dialektiese ontologie blyk in die afwesigheid van ‘n God-wêreld dualisme nie lewensvatbaar te wees nie. As gevolg van God se alomteenwoordigheid is ‘n terrein buite Hom nie moontlik nie.
Belangrike hermeneutiese kwessies inaggenome, is die Bybelse getuienis van God se oordeel met ‘n dubbele uitkoms tog sterk. Die enkele tekste wat voorgehou word om universele redding te attesteer, is nie noodwendig in konflik met die ander, oorweldigende oorvloed van teksgedeeltes wat wel op ‘n Laaste Oordeel-leer dui nie. Hoewel Moltmann die vryheid van die mens erken, glo hy dat die mens nie ‘n keuse vir of teen God kan maak nie. Die moontlikheid van die mens se keuse teen God, verhoed dat God tydens die konsummasie van die skepping sy eie "nie-syn" transendeer. Tog word die liefde van God vir die mens verklaar en bevestig juis deur sy/haar Godgegewe vryheid om self te kies. Deur God se liefde vir die mens word Hy kwesbaar, en deur die mens se “nee” vir God, word die dialektiek in God nooit opgehef nie. God is immers aan Homself getrou en respekteer daarom die mens se vryheid. Hoewel Hy uiteindelik tydens die kosmiese Sabbat vervul word deur die wat aan Hom behoort, treur Hy ook oor diegene wat hulle aan die buitekant van sy eskatologiese koninkryk bevind.
Daarom word gekonkludeer dat Moltmann se postulaat ‘n non sequitur is. God gaan die mensdom weliswaar oordeel en die gevolge daarvan is ‘n onafwendbare dualisme – hemel en hel.