Abstract:
Skuld en vergifnis is komplekse konstrukte wat deur die eeue in verskillende
religieuse, sosiologiese, psigologiese, wetlike en private sfere ontwikkel het
en steeds ontwikkel. Hierdie konstrukte word gesien as deel van die menslike
kondisie.
Hierdie mini-verhandeling lewer ’n ondersoekende literêre oorsig na die
ontwikkeling van die konstrukte skuld en vergifnis, met spesifieke verwysing
na:
• bestaande perspektiewe en post-strukturele teorieë aangaande skuld
en vergifnis;
• aspekte van skuld en vergifnis wat neerslag vind in die politieke,
sielkundige, sosiale, filosofiese en religieuse domeine;
• die metodiek en ritueel rondom die gee en ontvang van vergifnis.
Die navorsing stel voor dat skuld en vergifnis as ideologiese raamwerke kan
dien om die wêreld, samelewing en letterkunde te analiseer.
In die ontleding van die roman 30 nagte in Amsterdam, deur Etienne van
Heerden (2008), word aangetoon hoe aspekte van skuld en vergifnis verbeeld
word deur die gebruik van die volgende narratiewe struktuurelemente:
karakters en karakterisering, plot of intrige, verteller en perspektief, tyd en
ruimte.