Abstract:
Die meeste prokureurs is alewig in ’n stryd gewikkel om hulle fooie te verhaal van niebetalende
of onwillige kliënte. Dit blyk dat ’n toenemende aantal prokureurs noodgedwonge
kontraktueel met kliënte beding om ’n verband te registreer oor hulle saaklike
eiendom as sekuriteit vir regskoste. Hierdie praktyk is belaai met gevare vir kliënte en
etiese vanggate vir prokureurs. Die professie vereis bepaalde etiese pligte en verantwoordelikhede
teenoor kliënte en die hoogste moontlike graad van goeie trou word van
prokureurs vereis. Teen hierdie agtergrond word die gevare verbonde aan die registrasie
van ’n verband oor eiendom as sekuriteit vir die betaling van regskoste ondersoek en die
mate waartoe hierdie praktyk binne die etiese reëls van die onderskeie prokureursordes
resorteer. Die benadering wat gevolg word in die Verenigde State van Amerika word ook
ondersoek ter ondersteuning van die aanbeveling om hierdie praktyk uitdruklik te verbied
as synde oneties en onbehoorlik.