Abstract:
Aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV) is een van die deeglikste
nagevorste opvoedkundig-sielkundige versteurings. Dit is ook een van die
versteurings waarvan die voorkoms drasties vermeerder het oor die laaste
drie dekades, met ʼn voorkoms by skoolkinders van 3 tot 17%. Dit kom ook by
volwassenes voor.
Stimulantmedikasie word algemeen in die behandeling van ATHV
voorgeskryf. Ander algemene behandelingsmodaliteite sluit onder andere
gedragsterapie, dieët aanpassings en arbeidsterapie in.
Oefening as hulpmiddel in die bestuur van ATHV, word goed in die literatuur
beskryf, maar word ten spyte hiervan nie algemeen voorgeskryf in die
behandeling van ATHV nie. Die primêre doel van die studie was om die rol
wat die biokinetikus as oefenkundige te speel het in die bestuur van ATHV, te
ondersoek. Die hipotese was dat ATHV-pasiënte wat deelneem aan ʼn
oefenprogram onder leiding van ʼn biokinetikus, ʼn verbetering sal toon in
akademiese prestasie en gedrag. Die verband tussen ATHV-simptome,
aërobiese fiksheid, soepelheid, liggaamsamestelling en balans is ook
ondersoek.
Deur middel van ʼn meervuldige gevallestudieontwerp is die rol van die
biokinetikus in dié verband ondersoek. ʼn Gemengde benadering, met
kwantitatiewe sowel as kwalitatiewe elemente, is gebruik ten einde ʼn ryk en
omvattende studie te kon doen.
Riglyne vir die assessering van ATHV-pasiënte, asook beste oefenpraktyke,
is uit die literatuur afgelei.
Vyf deelnemers het vir ʼn tydperk van twee tot drie skoolkwartale aan die
studie deelgeneem. Die intervensie het bestaan uit ʼn oefenprogram van
ongeveer 30 minute per dag, vyf dae per week.
Al die deelnemers is vooraf, asook tydens en na die studie getoets aan die
hand van die volgende: Liggaamsamestelling, aërobiese fiksheid, soepelheid
en balans. Onderhoude met onderwyseresse en ouers, skoolrapporte en
vraelyste is verder gebruik om inligting in te samel. Deelnemers het ook
narratiewe verslae gelewer oor die belewenis van hulle deelname.
Die resultate van hierdie studie het die hipotese ondersteun. Die deelnemers
het verbeterings ten opsigte van akademiese prestasie en gedrag getoon.
Hulle aërobiese kapasiteit, liggaamsamestelling, soepelheid en balans het
ook verbeter en die verband tussen die onderskeie parameters en die ATHVsimptome
van elke deelnemer, is aangetoon en individueel bespreek. ʼn
Gedeelde sorgooreenkomsmodel is ontwikkel om die rol van die biokinetikus
duidelik aan te dui. ʼn Evaluasieprotokol vir gebruik deur biokinetici is
ontwikkel en riglyne vir programontwerp vir die ATHV-pasiënt is saamgestel.
Die gevolgtrekking van die studie is dat die biokinetikus ʼn besliste rol te speel
het in die bestuur van ATHV.