Abstract:
Die fokus van hierdie studie is ‘n intervensie deur middel van die Klanke, Klinkers en Klawersprogram op Afrikaanse Graad 1-leerders se fonologiese bewuswording ten opsigte van leesgeletterdheidsvaardighede. Daar is gepoog om onderrig in fonologie te versterk en meer verrykend te maak deur middel van die integrering van musiekaktiwiteite. Die versterking van fonologiese bewuswording het leesgeletterdheidsvaardighede versterk. Tydens die aanleer van leesvaardighede is leerders aktief betrek deur na stories te luister, liedjies aan te leer en aan ander musiekaktiwiteite deel te neem.
Volgens internasionale en nasionale leesstatistieke word leesgeletterdheids-vaardighede oral in die wêreld as ‘n probleem beskou, maar in Suid-Afrika neem dit kritieke afmetings aan waar die gemiddelde leerder in die grondslagfase groot probleme toon ten opsigte van lees. ‘n Moontlike rede vir hierdie probleem is dat fonologiesevaardighede nie onderrig word in Graad 1 nie. Weglating van die onderrig van sekere taalvaardighede soos fonologiese bewuswording lei tot swak leesprestasie by jong leerders. Oneffektiewe onderrigmetodes het ‘n beduidende negatiewe invloed op leerders se leesgeletterdheidsvaardighede. Hierdie agtergrond het my gelei tot die ondersoek van die navorsingsvraag naamlik: Tot watter mate sal ʼn Afrikaanse fonologiemusiekprogram ʼn invloed op Graad 1-leerders se fonologiese bewuswording as leesgeletterdheidsvaardigheid hê? In hierdie navorsing is daar gebruik gemaak van ‘n konseptuele raamwerk gebaseer op Howard Gardner (1983:9) se multi-intelligensies, met die klem op musikale en linguistiese intelligensies. Gardner (1983) bevestig dat leerders baat daarby vind wanneer onderwysers verskeie intelligensies in hulle aanbiedinge betrek. Die integrasie van musiek met geletterdheid soos voorgestel deur Russell-Bowie, speel verder ook ‘n belangrike rol in die konseptuele raamwerk. Russell-Bowie (2006) beveel die integrasie van musiek en ander vakke ten sterkste aan. Musiek dra by tot die ontwikkeling van effektiewe leesvaardighede deur die deelname aan genotvolle aktiwiteite. Onderwysers met of sonder musiekkennis of -vaardighede kan musiek onderrig, maar onderwysers met gespesialiseerde vaardighede word benodig wanneer gevorderde musiekvaardighede en -konsepte vir leerders aangeleer word.
ʼn Kwalitatiewe, interpretivistiese benadering tot ʼn gevallestudie is gebruik om die intervensieprogram en navorsingsvraag te verken, te verklaar en te beskryf. Data is ingesamel deur visuele bewysstukke, dokumente, waarneming, onderhoude en ‘n navorsingsjoernaal. Die data-analise het plaasgevind deur kodering en tematiese analise naamlik: Tema 1 Geletterdheidsvaardighede; Tema 2 Musiekvaardighede en
Tema 3 Die rolspelers se ervaring van die intervensie.
Onderwysers speel ‘n noemenswaardige rol in die aanleer van fonologiese bewuswording deur die korrekte uitspraak van fonologiese spraakklanke. Bevindinge van die navorsing het getoon dat musiek wel ‘n positiewe rol speel in fonologiese bewuswording van Graad 1-leerders se leesgeletterdheidsvaardigheid. Die intervensie program het duidelik die leerders se fonologiese bewuswording versterk wat weer hulle leesgeletterdheidsvaardighed bevorder het.