Abstract:
Hierdie artikel ontleed die herstellende geregtigheidsprosedures in die Wet op Kinderberegting 75 van 2008. Die oogmerk hiermee is om te evalueer in welke mate slagoffers ingesluit is en of, in lyn met vorige akademiese opinie, hulle werklik 'n sentrale posisie in so 'n benadering tot die strafregstelsel beklee. Vervolgens word voordele vir slagoffers wat 'n groter rol speel ondersoek, sowel as kritiek daarteen. Alhoewel bevind word dat slagoffers van kinderoortreders nie sentraal staan in hierdie nuwe regsparadigma nie, word aanbevelings gemaak vir die optimale uitleg en toepassing van herstellende geregtigheidsprosedures in die Wet op Kinderberegting. Op so 'n wyse kan die terapeutiese uitkomste wat vir slagoffers in die wet beoog word, verwesenlik word.