Abstract:
Ondanks die feit dat onlangse regspraak sommige onduidelikhede aangaande die regsposisie van surrogaatskap uit die weg geruim het, bestaan verskeie regs- en etiese dilemmas steeds op dié gebied. Ten spyte van die huidige lacunae dien die kontrak as 'n hulpmiddel om die belange van beide die lasgewende ouer(s) en die surrogaatmoeder te bevestig en te beskerm.
Die howe vereis 'n volledige, eerlike en omvattende kontrak, beëdigde verklaring en aansoek. Ten spyte hiervan blyk partye onbewus of ongeërg oor die moontlikheid en uitwerking van hul versuim om gehoor te gee aan hierdie vereistes. Voordat surrogaatskap deur die Kinderwet gereguleer was, het onvrugbare paartjies waarskynlik surrogaatskap onwettiglik beoefen. Die vraag is dus waarom, nou dat die praktyk wettig is, paartjies steeds die gereg tart?
Vanweë die aard van surrogaatskap bestaan die praktyk grotendeels uit die strewe na 'n balans tussen die belange van die verskeie partye, die kind en die gemeenskap as 'n geheel - 'n taak wat byna onmoontlik blyk te wees. Tans is die surrogaatmoederskapsooreenkoms die mees gepaste instrument om die belange van alle betrokkenes te beskerm. Die moontlikheid van 'n surrogaatskap-spesifieke model moet ondersoek word, om sodoende voornemende partye, asook ons howe leiding te bied in die uitleg, bekragtiging en implementering van surrogaatmoederskapsooreenkomste onder Hoofstuk 19 van die Kinderwet.
Todat 'n surrogaatskap-spesifieke model ontwerp word, of 'n hof 'n uitspraak lewer wat só 'n model impliseer, word daar aanbeveel dat die kontraktereg-model toegepas word. Dit maak voorsiening vir die moontlikheid dat die bedoeling van die partye nagejaag kan word. Verder word ook aan die hand gedoen dat toepassing van die kontraktereg-model kan lei tot die teëwerking van die onsekerhede wat daargestel word deur die afwesigheid van regulasies kragtens Hoofstuk 19 van die Wet.