Abstract:
Dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens tans onder geweldige druk verkeer, behoef
weinig betoog. Aan die een kant staan slagordes van georganiseerde misdadigers
gereed om die effektiwiteit van ons geregsdienaars, wat sweet om uitvoering te gee aan hul leuse ‘‘servimus et servamus’’, te toets; aan die teenoorgestelde kant
bespied ons regbank elke beweging van hierdie bewakers van die vrede wat in
die uitvoering van hul plig begaan word, met die spreekwoordelike arendsoog.
Die dagpers wemel deesdae ook van berigte oor die nypende tekort aan vaardighede
onder polisiebeamptes. Dit val dan sekerlik nie vreemd op nie dat daar in
die hofverslae deesdae al hoe meer bladsye afgestaan word aan uitsprake oor
deliktuele vorderings teen die minister van veiligheid en sekuriteit, vele waarvan
suksesvol (vgl bv in dieselfde maanduitgawe as die beslissing onder bespreking
Minister of Safety and Security v Luiters 2006 4 SA 160).