Abstract:
In die Afrikaanse letterkunde speel voëls by verskeie digters ’n belangrike rol – as simbole of metafore, of bloot as onderwerp in tradisionele natuurgedigte. Ook in die oeuvre van D.J. Opperman, een van die grootste Afrikaanse digters van die vorige eeu, speel voëls ’n belangrike rol. In sy nege bundels is daar verwysings na 32 voëlspesies en 26 voëlsoorte. In 123 uit 389 Opperman-gedigte is daar voël-verwante verwysings.
Opperman gebruik voëls baie effektief as simbole en metafore om onder meer menslike emosies en handelinge te suggereer of beklemtoon. Veral in sy eerste twee bundels, Heilige beeste (1945) en Negester oor Ninevé (1947), sy laaste bundel, Komas uit ’n bamboesstok (1979), asook sy bundel-in-wording waarin hy voor sy massiewe beroerte gewerk het, Sonklong oor Afrika, figureer voëls prominent. Die voëlkundige en bio-regionale akkuraatheid waarmee Opperman verwysings na voëls gebruik om die temas van gedigte toe te lig, is bevestiging van sy besondere fyn waarnemingsvermoë en dui daarop dat hy ’n meer as toevallige kennis van en belangstelling in voëls gehad het. Veral lesers met ’n kennis van voëls behoort ’n ryke leeservaring te hê by die lees en herlees van Opperman se gedigte.