Abstract:
Die doel van hierdie studie is om die relevansie van Gattungsforschung by die
vasstelling van "betekenis" te ondersoek. Dit word gedoen deur hoofsaaklik
die Nuwe-Testamentiese makarisme as Gattung nader te belig en die funksie wat
dit in die reeks van Mt. 5:3-10 inneem, met die semantiese ontleding van die
betrokke perikoop in verband te bring. Gattungsforschung word tradisioneel met Formgeschichte geïentifiseer. Op die voetspoor van die Ou-Testamentikus Wolfgang Richter, stel hierdie studie op gesag van die insigte van die nuwere taal- en literatuurwetenskap die leemtes in die tradisionele benadering verder aan die kaak. 'n Uiteensetting van hierdie moderne insigte, veral met betrekking tot die semantiek, word gebied. Op grond van hierdie insigte word 'n nuwere benadering tot Gattungsforschung
bespreek en verfyn. Die metodologiese oefening word dan met die oog op die doel van die studie ten opsigte van die makarismereeks in Mt. 5 toegepas. Die resultaat wat verkry is, toon dat Gattungsforschung 'n besonderlike konnotatiewe bydrae lewer tot die
juister bepaling van die boodskap van die teks. Hierdie resultaat word gesteun deur 'n oorsigtelike ondersoek na die funksie van enkele ander Gattungen. Die studie het aangetoon dat daar 'n goeie aanduiding bestaan dat Gattungsforschung 'n belangrike semiotiese relevansie bevat. En só is die deur geopen vir verdere besinning 'oor die kommunikeerbaarheid van literere tipes in Bybelse tekste.