Abstract:
Oorbietjies het vroeër regdeur die grasveldgebiede van Suider-Afrika
voorgekom. Die getalle van oorbietjies het egter drasties gedurende
die afgelope tyd afgeneem. Min is bekend oor hierdie spesie se ekologie en etologie. Die doelstelling van die huidige studie was om die oorbietjie
se eto-etologie te ondersoek met klem op habitatsvereistes en verspreiding.
Die studiegebiede naby Amsterdam en Piet Retief in Suidoos-Transvaal is
uitgesoek na 'n opname regdeur die provinsie en veldwerk het gedurende
Desember 1973 in aanvang geneem wat tot Julie 1976 geduur het.
Die oorbietjie toon spesifieke aanpassings wat aktiwiteitspatrone, sosiale
organisasie, voedingsgedrag en verdedigingsmeganismes betref sodat dit
in staat gestel word om in oop grasveldgebiede te bestaan.
'n Basiese aktiwiteitspatroon kom voor waartydens oorbietjies gemiddeld
34,2% van dagligperiodes aktief is. Faktore soos reën en veeversteurings
beiinvloed die aktiwiteitspatroon. Aktiwiteite in familiegroepe is
grootliks gesinkroniseer. Seisoenale verskille wat die tydsverspreiding
van aktiwiteitsperiode betref is waargeneem.
Gedurende die winter is daar 'n toename in wei-aktiwiteite.
Oorbietjies kom in familiegroepe voor bestaande uit veral pare en groepe wat
deur 'n ram en twee ooie gevorrn word. Die ramme verdedig reg deur die jaar
'n territorium wat met die tuisgebied oorvleuel. Hierdie territorium word
veral deur preorbitale diermerking en fekalieë afgebaken. In die Amsterdamstudiegebied
is 'n gemiddelde territoriumgrootte van 34 ha gevind.
'n Enkele lam word na 'n draagtyd van ongeveer 210 dae gebore. Die lamseisoen
se piek duur van November tot Januarie, en die lammers beweeg vir
'n periode van drie tot vier maande nie saam met die familiegroep nie.
Tydens voeding toon oorbietjies selektiwiteit wat plantspesies sowel
as verskillende plantdele betref. Oorbietjies is hoofsaaklik grasvretend
alhoewel verskeie nie-grasagtige kruide ook benut word. Oorbietjie-territoriums
sluit een of meer plantegroeigemeenskappe in. 'n Hoë voedsel voorkeur word vir veral Eulalia villosa, Monocymbium ceresiiforme en
Hyparrhenia hirta getoon.
Oorbietjies is nie van oop wateroppervlaktes vir drinkwater afhanklik nie.
Die enigste bron van water is die voedselplante en neerslag soos dou of
ryp op hierdie plante.
Interaksies met ander wilde hoefdierspesies is beperk en geen positiewe
assosiasies kom voor nie. Oorbietjies toon aanpassings wat beide primêre
en sekondêre verdedigingsmeganismes betref, en vlugafstande wissel na
gelang van topografie en horisontale plantdigtheid. 'n Kleiner vlugafstand
word in lang grasveld aangetref as in kort grasveld.
Oorbietjiedigthede van 4,56 en 2,68 oorbietjies/km2 is in die Piet Retief-en
Amsterdam-studiegebiede respektiewelik gevind. Voorkeure word vir
plato-uitlopers getoon terwyl oorbietjies selde op tallushange aangetref
word. Menslike besetting, plantasies en landerye word grootliks vermy.
Kleinskaalse bewegings kom soms voor wat deur veebewegings, algemene veldtoestand en brande beinvloed word. Duidelike voorkeure word vir gebrande
veld getoon.