Abstract:
Die aanstelling van insolvensiepraktisyns in insolvente boedels is 'n kontroversië le onderwerp - nie as gevolg van die kompleksiteit van die toepaslike wetsbepalings nie, maar weens volgehoue bewerings van onreë lmatighede wat met die maak van hierdie aanstellings gepaard gaan. Hierdie artikel het ten doel om die reguleringsfunksie van die meester van die hooggeregshof, as staatsorgaan, en die maak van aanstellings deur die meester ingevolge huidige wetgewing, te ondersoek en krities te bespreek. Daar word aan die hand gedoen dat die onderliggende oorsaak van die huidige probleme in die insolvensiebedryf die ongereguleerde aard van die Suid-Afrikaanse insolvensiebedryf is.
Die geskiedkundige ontwikkeling van die kantoor van die meester word ondersoek met verwysing na die staat se rol by die regulering van die insolvensiebedryf. Daar word ook krities gekyk na die meester se implementering van huidige wetgewing wat voorsiening maak vir die aanstelling van voorlopige kurators en likwidateurs, sowel as na die nie-wetgewende kriteria wat die meester toepas ten einde aanstellings in die praktyk te maak. Die rol van transformasie, wat deur middel van 'n departementele beleidsdokument in werking gestel is, word ook krities bespreek. Na 'n vergelykende ondersoek na die regulering van die insolvensiebedryf in die Verenigde Koningkryk en Australië, word voorstelle gemaak vir die behoorlike regulering van die insolvensiebedryf in Suid-Afrika.
Die gevolgtrekking word gemaak dat die huidige stelsel vir die aanstelling van insolvensiepraktisyns in Suid-Afrika onvoldoende is en dat die probleme wat hiermee gepaard gaan slegs opgelos sal word deur middel van behoorlike regulering en die doeltreffende opleiding en lisensië ring van insolvensiepraktisyns. Hierdie oplossings word blykbaar tans deur die staat ondersoek.