Abstract:
Die literêre simbool word onderskei van die konvensionele
simbool soos dit in A dictionary of Symbols van J.E. Cirlot
verskyn. Die literêre simbool kan in die literêre kunswerk
dieselfde, of 'n ander betekenis as die konvensionele simbool
hê. Die literêre kunswerk self is die kontrole vir die
literêre simbool. Die literêre kunswerk moet genoeg
konstituerende elemente bevat om die literêre simbool "simbool"
te maak. 'n Woord wat as literêre simbool funksioneer, kan in
ander verse, selfs in dieselfde vers, weer voorkom sonder dat
dit simbolies funksioneer. Die studie wys op die gevare van
waninterpretasie indien simboliek van buite die kunswerk op die
kunswerk afgedwing word.
"Vel", "glas", "groen", "swart", "wit", en "water" word as
simbole in Die ysterkoei moet sweet bespreek. Tabulering by
hoofstukke 4, 5 en 6 dui aan in watter verse en versreëls die
simbole voorkom, asook waar dieselfde woorde voorkom, maar nie
as simbole funksioneer nie.
Die simbole wat behandel word, is terugkerende simbole; dit
keer telkens terug en roep telkens dieselfde assosiasie op,
naamlik die van wysiging van konvensionele grense. Terselfdertyd
skep dit 'n wêreld van versoenende eenheid, 'n wêreld waarin die
paradoks van lewe en dood, binne en buite, heel en verbrokkeld,
een word. In hoofstuk 7 wys die studie ook op die waarde van
"buite-literêre" gegewe, naamlik die invloed van die
Zen-Boeddhisme en die Surrealisme in Breytenbach se poësie.
Hierdie invloede bevestig wat reeds deur analise uit die
vers duidelik geword het: dit is nie irrelevant ten opsigte
van die poësie nie, maar dit alleen kan nie die vers
bevredigend genoeg verklaar nie.
Die slotsom is dat die eenheid van 'n totale wêreld, deur
o.a. die gebruik van terugkerende simbole, in Breytenbach
se poësie herkenbaar word wanneer, met die vers as enigste
gegewe, die verse aan analise onderwerp word.