Abstract:
Die bespreking van die opvoeder se reg op vryheid van uitdrukking in hierdie
artikel spruit voort uit ’n departementele tugverhoor wat werklik plaasgevind
het. Die opvoeder het, aldus die klagstaat, met die pers gepraat oor ’n voorval
wat by die skool plaasgevind het. Die Departement beweer dat die opvoeder
nie met die pers mag praat sonder die toestemming van die Departement
nie. Hy sou dan ook nie sodanige toestemming gehad het nie. Tydens die
verhoor het die skrywer as vakbondverteenwoordiger namens die opvoeder
gepoog om die voorsittende beampte te oortuig dat die geldigheid van die
klagtes oorweeg moet word in die lig van die opvoeder se reg op vryheid van
spraak, welke reg nie willekeurig deur amptenare van die Departement
beperk kan word nie. Dit sou beteken dat dit geldige aanklagtes moet wees.
Hierdie verweer was nie suksesvol nie. Die aandag van die voorsittende
beampte is ook gevestig op nuwe kinderwetgewing wat die beskerming van
kinders vereis en die aanmelding van bepaalde oortredings verpligtend maak
vir opvoeders. Die voorsittende beampte kon dit aanvaar, maar alleen
aanmelding aan die polisie maar nie aan die pers nie. ’n Laaste poging is
aangewend deur die voorsittende beampte se aandag te vestig op die
voorskrifte van die Wet op Beskermde Bekendmakings 26 van 2000, wat die
werkgewer gebied om, onder omstandighede waar aan die vereistes van die
Wet voldoen is, ’n werknemer wat so ’n bekendmaking doen, te beskerm en
verder die werkgewer verbied om die werknemer aan beroepsnadeel te
onderwerp, wat in hierdie geval ’n skorsing en tugverhoor behels het. Ook
hierdie poging was onsuksesvol. In die loop van die bespreking word ook
melding gemaak van die basiese vereistes vir ’n billike verhoor wat
verontagsaam is en wat buitendien daartoe behoort te lei dat die verrigtinge
op appèl ter syde gestel behoort te word.