Abstract:
Die onwillekeurige skrikreaksie vorm deel van die eerste vinnige vreesreaksies wat 'n organisme ervaar in respons tot 'n skielike bedreiging. Dit is voordelig in die sin dat dit 'n organisme toelaat om onmiddellik weg te beweeg van 'n voorwerp wat potensieel gevaarlik kan wees, terwyl die hoër breinsentra nog besig is om uit te werk of die voorwerp inderdaad gevaarlik is. Die skrikreaksie is daarop ingestel om die organisme te beskerm teen potensiële gevaar. Die onwillekeurige skrikreaksie onderlê wat in die omgangstaal bekend staan as "om te skrik vir koue pampoen", waar 'n individu skrik vir iets geheel en al onskadeliks, byvoorbeeld 'n tak wat aangesien word vir 'n slang - dus "eerder bang Jan as dooie Jan". Hierdie manuskrip poog om te verduidelik hoekom ons skrik, al besef ons 'n paar millisekondes later dat dit geheel en al onnodig was. Die onderliggende neuroanatomie, met verwysing na die direkte en indirekte (kortikale) bane waardeur sensoriese inligting die amigdala bereik, word hersien. Die fisiologie van die vreesreaksie word kortliks bespreek en die skrywe word afgesluit met 'n integrerende figuur.