Abstract:
Die gemeenregtelike prosedure ten opsigte van die arres van ’n peregrinus verweerder om
jurisdiksie te vestig of te bevestig, is ongrondwetlik verklaar in Bid Industrial Holdings
(Pty) Ltd v Strang. In hierdie artikel word ’n oorsig van die geskiedenis, algemene
beginsels en ontwikkeling van die prosedure gegee met die oog daarop om ’n kritiese
ontleding te maak van die praktyk wat in Bid Industrial Holdings in die plek van die
prosedure aanvaar is. Daar word aan die hand gedoen dat dié praktyk nie voldoende is nie
en deur ’n ander prosedure vervang behoort te word. Verskillende prosedures word
oorweeg. Ten slotte word aanbeveel dat die nuwe prosedure by wyse van ’n wysiging aan
die Wet op die Hooggeregshof ingevoer behoort te word.