Abstract:
In literatuur word voedselaankope gewoonlik voorgehou as minder kompleks vergeleke met die aankoop van ander huishoudelike kommoditeite. Hierdie literatuuroorsig toon dat die kompleksiteit van voedselaankope waarskynlik misken word omdat die faktore wat verbruikers se voedselaankope beïnvloed in onlangse jare meer intens geraak het. Daarby word voedselaankoopbesluite merendeels in die winkel en binne 'n beperkte tyd geneem, wat druk op die besluitnemingsproses aansienlik verhoog. In hierdie literatuuroorsig word die beperkte besluitnemingstyd, verbruikers se verhoogde vereistes ten opsigte van die tipe en kwaliteit van voedselprodukte, die oorweldigende verskeidenheid voedselprodukte waaruit verbruikers kan kies, sowel as prominente wêreldneigings waarmee verbruikers daagliks in die media gekonfronteer word, in ag geneem met betrekking tot verbruikers se behoeftes en vereistes ten opsigte van voedseletikettering en die probleme wat verbruikers ondervind en wat hulle daarvan weerhou om rasionele besluite te kan neem. Eksterne faktore wat verbruikersbesluite tydens voedselaankope bemoeilik en selfs verwar word bespreek met inagneming van persoonlike faktore wat verbruikers se behoefte aan produkinligting en vermoë om produkinligting te interpreteer en te evalueer, beïnvloed. Die belangrikheid van produkinligting tydens die verbruikersbesluitnemingsproses word bespreek om aan te toon dat voedselkeuses waarskynlik moeiliker is as wat algemeen aanvaar word. Die tipe en beskikbaarheid van produkinligting sowel as die formaat van voedseletikette impliseer duidelike uitdagings vir die voedselindustrie, veral as die diversiteit van die Suid-Afrikaanse mark in ag geneem word. Voorstelle vir navorsing met klem op verbruikersopvoeding word gemaak om verbruikers te begelei tot meer realistiese verwagtinge omtrent voedseletikettering en om etikette tot hulle voordeel te gebruik ten einde ingeligte voedselkeuses te maak.