Abstract:
Die bespreking fokus op die invloed van die Wet op Verbruikersbeskerming
68 van 2008 op die gemeenregtelike waarborg teen verborge gebreke en die
gemeenregtelike remedies tot die koper se beskikking waar die waarborg nie
nagekom word nie. Die verbruiker se regte op veilige, goeie gehalte goedere
ingevolge artikel 55 sowel as die versweë waarborg van gehalte ingevolge
artikel 56 word krities bespreek. Die voortbestaan van voetstootsklousules
ingevolge die Wet word bespreek asook die posisie waar eiendomsagente
betrokke is by die verkoop van onroerende eiendom en die posisie ten
opsigte van tweedehandse goedere. Ten laaste word die aanspreeklikheid vir
skade deur goedere veroorsaak soos beoog in artikel 61 van die Wet
bespreek.