Abstract:
Sport het vandag ’n industrie geword en dit het gelei tot die
kommersialisering van regte op die openbare beeld wat binne die konsep van
persoonlikheidsregte en in die konteks van die actio iniuriarum erkenning
geniet en as regtens beskermbare belang beskou word. Die daaropvolgende
toename in sportlui se waarde en inkomste het onvermydelik die belastinggaarder
se belangstelling gewek. Dit het sportlui genoodsaak om belastingadvies
te bekom en het ’n aantal belastingbeperkingskemas tot gevolg gehad.
Een van hierdie skemas is om ’n sportman se verskaffing van promosiedienste
van sy lewering van spelersdienste te skei. Talle sportlui het met die
oog op hul regte op die openbare beeld persoonlike maatskappye gestig wat
bepaal hoe hierdie regte oorgedra of gelisensieer kan word en sodoende
absolute beheer uitoefen oor die kommersiële ontginning van die sportman
se regte op sy beeld. Die doel van sodanige skeiding is om die sportman se
belastinglas te verlig deur belastingaanspreeklikheid op grond van
vergoeding vir promosiedienste te vermy. Die inkomste wat verkry word uit
die ontginning van regte op die openbare beeld sal deel van die maatskappy
se winste vorm. Die maatskappy sal dan op sodanige winste belas word en
die sportman sal ’n dividend van die maatskappy ontvang. Die regsvraag is
egter of die belastinggaarder so ’n skema sal toelaat. Daar moet ook vasgestel
word of die inkomste verkry uit die gebruik van ’n sportman se regte op die
openbare beeld as van ’n kapitale aard beskou kan word wat as ’n
kapitaalwins aan minder belasting onderhewig is en of dit as bruto inkomste
ingevolge die Inkomstebelastingwet geklassifiseer moet word. Hierdie
belastingkwessies is nog nie omvattend in Suid-Afrika aangespreek nie. Ten
einde ’n beter begrip te verkry van die verwikkeldhede wat met die belasting
van inkomste uit die gebruik van regte op die openbare beeld gepaardgaan,
word die benadering in die Verenigde Koninkryk geëvalueer weens die
ooreenkomste tussen ons regstelsels in hierdie verband.