Abstract:
Voor die inwerkingtreding van die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 (NKW)
in 2007 was dit ietwat ongehoord om in Suid-Afrika te hoor van wetgewing
gerig op verbruikersbeskerming. Een van die NKW se hoofdoelstellings is die
beskerming van skuldenaars. Skuldberading ingevolge artikel 86 is een van
die wyses waarop die wetgewer aan sodanige beskerming uiting gee. Artikel
85 bepaal dat ’n hof, in enige verrigtinge waarin ’n kredietooreenkoms ter
sprake kom en indien die skuldenaar beweer dat hy oorverskuldig is, die
kredietooreenkoms na ’n skuldberader mag verwys of self die skuldenaar
oorverskuldig verklaar en sy skuld herstruktureer. In die praktyk word artikel
85 hoofsaaklik by aansoeke om summiere vonnis met betrekking tot
ontroerende eiendom deur skuldenaars geopper. Artikel 85 verleen aan die
hof die diskresie om die kredietooreenkoms na ’n skuldberader te verwys
met die gevolg dat summiere vonnis uitgestel of gewysig kan word. Die onus
rus op die skuldenaar om die hof te oortuig om sodanige verwysing te beveel.
Die howe het ’n aantal aspekte geïdentifiseer wat oorweeg moet word by die
toepassing van die hof se diskresie. Hierdie artikel is ’n kritiese bespreking
van artikel 85 asook die uitleg daarvan deur die howe.