Abstract:
Mishandeling binne die konteks van intieme verhoudings is tans ’n algemene verskynsel.
Wanneer die mishandelde party hom- of haar egter tot kriminele optrede wend ten einde
te ontsnap uit sodanige verhouding, word die situasie gekompliseerd. Daar is tans ’n
aantal verwere binne die konteks van die materiële strafreg tot die beskikking van ’n party
wat aangekla word, of staan te word, as gevolg van misdadige optrede binne die konteks
van mishandeling binne ’n intieme verhouding. Nie-patologiese ontoerekeningsvatbaar-
heid is een sodanige verweer. In hierdie artikel evalueer die outeur die rol van die
geestesdeskundige in die assessering van ’n beskuldigde wat hom of haar beroep op die
verweer van nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid as gevolg van misdadige optrede
voortspruitend uit mishandeling binne ’n intieme verhouding. Die outeur oorweeg die
meriete van laasgenoemde verweer en gevolglik die beskikbaarheid daarvan vir ’n
mishandelde party binne die konteks van die omstrede Appèlhofbeslissing in Eadie. Die
outeur kontekstualiseer verder die wesenlike rol van die geestesdeskundige teen die
agtergrond van die mishandelde vrou-sindroom en die meer onlangse verskynsel van
dwangbeheer wat aangevoer kan word ter ondersteuning van die verweer van nie-
patologiese ontoerekeningsvatbaarheid. Ten slotte bereik die outeur die gevolgtrekking
dat die leerstukke van die mishandelde vrou-sindroom en dwangbeheer slegs deur
behoorlik gekwalifiseerde geestesdeskundiges geassesseer kan word. Verder word
aanbeveel dat sowel die Staat as die beskuldigde in sodanige geval deskundige getuienis
moet aanvoer ten einde die meriete van laasgenoemde verweer te evalueer. Die belangrike
rol van deskundige getuienis in die geval van verminderde nie-patologiese toerekenings-
vatbaarheid vir doeleindes van vonnisoplegging word ook toegelig.