Abstract:
In S v Mshumpa word dit opnuut beklemtoon dat die fetus voor geboorte nie die draer is
van grondwetlike regte nie en gevolglik is daar dus ook geen strafregtelike remedies
beskikbaar vir die geval waar derdeparty geweld spesifiek gemik is op die beëindiging
van swangerskap nie. Die artikel huldig die standpunt dat hierdie situasie aangespreek kan
word deur die skepping van ’n statutêre misdryf gebaseer op vroulike reproduksieregte en
die reg op menswaardigheid. Sodanige regshervorming sal in lyn met die Grondwet moet
wees. Derhalwe kan die fetus steeds nie regstatus verkry nie en mag die misdryf nie in
konflik wees met die riglyne vervat in die Wet op Keuse oor die Beëindiging van
Swangerskap nie. Die Verenigde State van Amerika is gebruik in ’n vergelykende studie
aangesien die kwessie van derdeparty geweld gemik teen die fetus reeds die aandag van
die wetgewer en akademiese navorsing in dié jurisdiksie geniet het.