Abstract:
Statistiek in verband met kinders met gestremdhede is verdoemend. In die ontwikkelende
wêreld woon 98% van hierdie kinders nie skool by nie en 30% van die wêreld se
straatkinders het een of ander gestremdheid. In hierdie bydrae word aangetoon dat die
Kinderwet 38 van 2005 ver gaan om ’n statutêre raamwerk te skep ten einde kinders met
gestremdhede se grondwetlike regte te verwesenlik. Die Suid-Afrikaanse Regskommissie
(soos dit toe geheet het) het vanuit die staanspoor ten doel gehad om in die nuwe
Kinderwet veral vir kinders in besonder moeilike omstandighede, soos kinders met
gestremdhede of kroniese siekte, voorsiening te maak. Hierdie doel word verwesenlik in
die talle bepalings van die Wet wat vir omvattende strategieë voorsiening maak om onder
andere ook kinders met gestremdhede in verskillende omstandighede en fasiliteite te
akkommodeer. In vergelyking met ander lande op die kontinent, is die Suid-Afrikaanse
wet toonaangewend. Die grootste uitdaging is om die teorie nou in werklikheid te omskep
sodat daar vir kinders met gestemdhede fasiliteite geskep word om onder andere vir vroeë
kinderjare-ontwikkeling, gedeeltelike sorg, voorkoming en vroeë ingryping en kinder- en
jeugsorgsentrums voorsiening te maak.