Abstract:
Die leerstuk van skeiding van magte is by implikasie ’n basiese beginsel in die Suid- Afrikaanse grondwetlike bestel. Die leerstuk vind sy beslag in die strukture en funksies van die verskillende staatsorgane en hul onderskeie interafhanklikheid. ’n Kenmerk van dié bestel is die skepping van ’n onafhanklike nasionale vervolgingsgesag ingevolge artikel 179 van die Grondwet. Maar dit is veral gebeure soos die afdanking van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Advokaat Vusi Pikoli, wat vrae laat onstaan het oor die vermeende politieke onafhanklikheid van die vervolgingsgesag. ’n Mens kan met reg vra of politieke oorwegings oor politieke onafhanklikheid geseëvier het. Ek bespreek die grondwetlike en statutêre bepalings wat die struktuur van die vervolgingsgesag in Suid-Afrika daarstel, ondersoek die institusionele modelle in Kanada en Australië ingevolge waarvan die vervolgingsgesag in dié lande funksioneer en verwys na ’n internasionale standaard vir vervolging. Ek vergelyk die modelle en kom tot die gevolgtrekking dat die Suid-Afrikaanse model goed met die ander modelle vergelyk, maar dat daar ’n belangrike verskil is wat ruimte vir die afdanking van Advokaat Pikoli geskep het. Ek bespreek die rol van ’n aanklaer en neem lesse in die Amerikaanse reg geleer in ag. Ek stel ten laaste ’n model voor wat die beste in ons huidige politieke klimaat sal kan funksioneer.