Abstract:
Die doel met hierdie navorsing (as deel van ‘n groter
studie) was om die probleme wat die Suid-Afrikaanse
Klerebedryf met die sleutel liggaamsmates vir die
vervaardiging van klere ondervind, te verken en
beskryf. Suid-Afrika kon nie in die laaste aantal jare
daarin slaag om die uitvoer van klereprodukte te
verhoog nie, maar het egter die uitdaging om uitvoere
te verhoog, aanvaar. Een manier om hierdie
uitdaging die hoof te bied, is om met goeie pas ‘n
meer mededingende kledingproduk vir die plaaslike
sowel as internasionale mark te verseker. Die
sleutelmates is die eerste stap in die proses om ‘n
goedpassende kledingstuk daar te stel. Om
konsekwentheid met groottes te verseker is dit
noodsaaklik dat die sleutelmates op ‘n
gestandaardiseerde manier deur alle vervaardigers
en kleinhandelaars gemeet word. Aangesien
sleutelmates ‘n integrale deel van die kledingstuk
vorm, sal die effektiewe kommunikasie van toepaslike
sleutelmates en klere-groottes aan die verbruiker die
keuse van korrekte grootte kledingstukke aansienlik
vergemaklik.
‘n Pos-opname is gedurende Julie tot November
2002 gedoen, deur vraelyste na Suid-Afrikaanse
klere- en skoenvervaardigers en kleinhandelaars te
stuur. Uit die terugvoer op die pos-opname is ‘n aantal
respondente vir individuele onderhoude met behulp
van doelbewuste steekproefneming gekies. ‘n
Gestruktureerde onderhoudskedule het verseker dat
akkurate beskrywings van liggaamsmates tydens die
onderhoude in Julie 2003 verkry is. Data wat tydens
die pos-opname ingesamel is, is deur middel van
frekwensie tabelle ontleed om ‘n lys van liggaamsmates,
wat deur die respondente gebruik word, saam
te stel. Transkripsies van die onderhoude is deur
inhoudsanalise ontleed, en sodoende is sleutelmates
geïdentifiseer en gedefinieer. Hierdie sleutelmates is
daarna vergelyk met die sleutelmates wat in ‘n studie
deur Simmons en Istook (2003) geïdentifiseer is.
Die resultate weerspieël dat, alhoewel internasionale
beskrywings vir 100% van die sleutelmates beskikbaar
is, daar nogtans probleme met landmerke ondervind
word, en dat daar min konsensus rakende die
metingsmetode en identifisering van landmerke is. ‘n
Studie deur Hwang en Istook (2001) het ook bevind
dat daar ‘n gebrek aan konsensus ten opsigte van
terminologie en beskrywings van liggaamsmates is.
Die onsekerheid in die industrie ten opsigte van waar
en hoe die sleutelmates geneem moet word, is te
verstane as in ag geneem word dat Suid-Afrikaanse
kleinhandelaars en vervaardigers van standaard internasionale
beskrywings afhanklik is. Hierdie onsekerheid
word weerspieël deurdat daar vir slegs 41,2%
van die beskrywings van sleutelmates konsensus is
ten opsigte van hoe die sleutelmates geneem moet
word. Dit is van uiterste belang dat die beskrywings
van liggaamsmates absoluut korrek en herhaalbaar
is, sodat dit op die mees akkurate manier in produksie
aktiwiteite toegepas kan word.
Samevattend en ter aanbeveling is dit duidelik dat die
klere-industrie die identifisering van landmerke,
asook spesifieke metodes vir die neem van die mates
op die liggaam, moet aanspreek. Landmerke is krities
wanneer liggaamsmates na die patroon oorgedra
word. Dit is tot voordeel van alle lande wat klere vervaardig
om ooreen te stem ten opsigte van watter
landmerke gebruik moet word. Dit is ook noodsaaklik
dat rolspelers in die industrie in detail beskryf hoe
hierdie landmerke konsekwent geïdentifiseer kan
word en presies hoe die sleutel liggaamsmates
geneem behoort te word. Die pas van ‘n kledingstuk
is ‘n baie belangrike aanduiding van die kwaliteit
daarvan. Uitnemende kwaliteit is die enigste manier
om mededingend te bly in ‘n uiters kompeterende
bedryf, en deur akkurate sleutelmates wat uiteindelik
goeie pas verseker, kan die uitdaging om nasionaal
en internasionaal mededingend te wees,
aangespreek word.