Abstract:
Hierdie artikel, in vier dele, fokus op een voorgestelde kenmerk van doeltreffende
wetgewing; dat die afdwingingsmeganisme moet bestaan uit gespesialiseerde
liggame en dat die voorsittende beamptes van hierdie liggame opleiding moet ontvang om spesialiskennis te verwerf. Die onderliggende tema van hierdie artikel is die (huidige) onvermoë van die Suid-Afrikaanse staat om hierdie kenmerk van effektiewe wetgewing te realiseer. Ek beskou die konsep “Staatsonvermoë” vanuit die hoek van die opleidingsprojek van die Department Justisie om voorsittende beamptes op te lei in terme van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000. Ek leen beginsels uit die dissipline van Publieke Administrasie en stel ’n raamwerk daar waarteen hierdie opleidingsprojek gemeet word. Ek ontleed dan in watter mate die projek in sy doel geslaag het. Ek verskaf ’n gedetailleerde kronologiese bespreking van die problematiese aspekte van die projek, wat insluit ’n ooroptimistiese besigheidsplan, ondoeltreffende monitering van vordering op die projek, bestuursinersie, oormatige sensitiwiteit tot sommige belanghebbers se
vrese; en onvoldoende finansiële steun.